| |

Mpumalanga-buurtwagte hou wakende oog tydens #NationalShutdown

AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga het reeds vanaf Sondag 19 Maart sigbaarheidsaksies van stapel gestuur in aanloop tot die EFF se #NationalShutdown. Die aksies het ingesluit die verwydering van bande en die oprigting van observasieposte, asook hommeltuig- en voertuigpatrollies.

Verskeie buurtwagte van AfriForum het onder meer saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en privaat sekuriteitsdienste gewerk en deurlopende met mekaar geskakel. In aanloop tot dié staking het verskeie groepe bymekaargekom en gebeurlikheidsbeplanning bespreek.

In die meeste dorpe in Mpumalanga was die EFF-lede egter min en geen ernstige voorvalle is aangemeld nie. AfriForum se beheerkamer vir die noordstreek was ook voortdurend met ander veiligheidstrukture in kontak om die situasie te moniteer.

“AfriForum sal altyd saam met ander veiligheidstrukture in die land werk om orde te handhaaf en om ons gemeenskappe se veiligheid eerste te stel,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die Delmas-tak het ook ondanks die #NationalShutdown steeds voortgegaan en slaggate in Van der Waltstraat opgevul. Tydens hierdie inisiatief is ongeveer 50 sakke teer gebruik.

“Niks sal ons tot stillstand dwing nie. Ons dorp is ons trots en ons sal aanhou om die dorp op te knap,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Sluit vandag nog by AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga aan: SMS “Buurtwag” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings