MRK moet aanbeveel, nie beveel nie, sê AfriForum

AfriForum het vandag argumente rakende die magte en bevoegdhede van die Menseregtekommissie (MRK) aangevoer in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein. Die burgerregteorganisasie tree op as vriend van die hof in ’n saak tussen die landboumaatskappy AgroData en die MRK. Die uitkoms van dié saak kan moontlik verreikende gevolge inhou vir die afdwingbaarheid van alle aanbevelings wat deur die MRK gemaak word.

Die MRK voer in hierdie saak aan dat sy aanbevelings bindend is en dieselfde regswerking het as byvoorbeeld ’n hofuitspraak. AfriForum huldig egter die standpunt dat die MRK, in elke geval wat die kommissie ondersoek, eerder samewerkende optrede onder die betrokke partye moet bewerkstellig. Verder moet die kommissie se aanbevelings slegs as bindend beskou word wanneer dit deur ’n hof afgedwing word. Dié argument berus op artikel 184(2)(b) van die Grondwet waarvolgens die MRK stappe mag doen “ten einde gepaste herstel te verseker waar menseregte geskend is”. Die Grondwet laat egter nie die MRK toe om bindende direktiewe uit te vaardig nie.

Die MRK het in Mei 2018 ’n klag ontvang van inwoners van die plaas De Doorn Hoek in Mpumalanga nadat die eienaars van die grond, AgroData, na bewering in 2016 beperkings op die inwoners se toegang tot boorgatwater geplaas het. Voordat die MRK egter sy bevindings bekend kon maak, het AgroData en die inwoners ’n skikking bereik. Die MRK het egter aangevoer dat hul bevindings en voorskrifte in die saak steeds nagevolg moet word en dat die partye se ooreengekome skikking nie ’n genoegsame oplossing bied nie. In ’n poging om die voorskrifte te laat afdwing, het die kommissie hom tot die Mpumalanga Hooggeregshof in Mbombela gewend. Dié hof het egter in Maart 2022 die MRK se aansoek van die hand gewys en beslis dat, hoewel die MRK aanbevelings kan maak, hulle nie kon bewys dat alle direktiewe wat deur die MRK uitgevaardig word, bindend is nie. In reaksie hierop het die MRK die Appèlhof genader om dié beslissing te appelleer.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, sal dit rampspoedig wees as al die MRK se aanbevelings – waarvan sommige verregaande is – bindend word. “Die hoë voorkoms van magsmisbruik deur staatsinstellings moet ons juis meer waaksaam maak oor wie wat mag beveel,” sê Boshoff.

Uitspraak is voorbehou.

Soortgelyke plasings