|

Munisipaliteit moet daad by woord voeg om waterprobleme in Kimberley op te los

Die AfriForum-tak in Kimberley het op Woensdag 6 April ’n vergadering met die waarnemende munisipale bestuurder van die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit, Nomonde Kesiamang, gehad om antwoorde te eis oor die talle waterprobleme wat tans in Kimberley heers. Die vergadering volg ná die tak op 31 Maart ’n skrywe aan haar gerig het.

Die munisipaliteit het ooreengekom dat al die uitstaande dokumentasie teen die einde van die week aan AfriForum gestuur sal word. Verder het Boy Dhluwayo, uitvoerende direkteur van infrastruktuur en dienste by die Sol Plaatje Stadsbestuur, gesê dat die nasionale tesourier ondersoek sal instel na al die waterprobleme aangaande Kimberley asook die herstel van lekasies by die waterbron op die R31 sodat dié pad op ’n permanente basis herstel kan word. Die kwaliteit van die drinkwater by die waterbron is ook ’n rede tot kommer aangesien riool in die bron inloop. ’n Drie-fase-plan is bespreek waar die nasionale tesourier eerstens sal ondersoek instel oor die aard van die problem, tydsduur en kostes vir herstel. Daarna sal die probleem tydelik herstel word vir onmiddelike verligting en die derde fase is om ’n meer permanente oplossing vir hierdie probleme te verkry.

Dhluwayo het onderneem om in die eerste week van Mei ’n voorlegging aan die tak te doen oor al die waterprobleme en die oplossings wat daarmee gepaardgaan. Die nasionale tesourier sal na verwagting in Junie volledige terugvoer kan verskaf oor die lekasies by die rioolaanleg.

Die AfriForum-tak sal die kwaliteit van die drinkwater ook deurentyd monitor en aan die munisipaliteit terugvoer gee. Die tak gaan die week van 11 April watermonsters in die Sol Plaatje omgewing toets.

“In die lig van die Nasionale Blou- en Groendruppelverslag wat onlangs bekendgemaak is verwelkom ons die uitkoms van hierdie vergadering. Ons glo egter in resultate en hoop dat die munisipaliteit daad by woord sal voeg om die waterprobleme volhoubaar op te los,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Die munisipaliteit het dit verwelkom dat AfriForum met hulle in gesprek tree oor die probleme en klagtes op grondvlak en het ook erkenning gegee aan die tak se volhoubare skoonmaakprojek waar die tak help met vullisverwydering in Kimberley asook om die gras in publieke areas te sny.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Kimberley” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings