| |

Drie veiligheidskameras én Alfa-buurtwag hou nou wakende oog oor Sandbaai

Drie nuwe veiligheidskameras én AfriForum se Alfa-buurtwag sal voortaan ’n wakende oog oor Sandbaai hou en help toesien dat veiligheid in hierdie kusdorpie prioriteit geniet. AfriForum se Overstrand-tak het verlede week die eerste kamera hier laat monteer nadat drie kameras geskenk is met die spesifieke doel om Sandbaai se gemeenskap te beveilig. 

AfriForum se Overstrand-tak het verlede week ingespring met die opstel van die nuwe kameras wat nou sal inskakel by die buurtwag se reeds bestaande netwerk. CU Live Security Solutions,’n plaaslike privaat veiligheidsmaatskappy wat nou saam die Alfa-buurtwag werk, het ingestem om die kameras te moniteer. Alfa-buurtwag sal as eerste reaksie dien op aktiwiteite wat deur dié kameras opgetel word.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is misdaad ook in hierdie gemeenskap aan die toeneem. Navorsing het reeds getoon dat veiligheidskameras ’n doeltreffende hulpmiddel in misdaadvoorkoming is, aangesien dit veral geleentheidsmisdadigers afskrik. Die gebruik van hierdie tegnologie sowel as hommeltuie gee aan AfriForum en die gemeenskap ’n waardevolle voorsprong in die bekamping van misdaad. Benewens die gebruik van tegnologie, is AfriForum se verhoudinge met ander plaaslike rolspelers – insluitende privaat veiligheidsmaatskappye – ook van kritieke belang om veiligheidsdoelwitte te bereik.

In die lig van die nuutste misdaadstatistiek is die Overstrand-tak vasbeslote om hul fokus op misdaadvoorkoming en veiligheid in 2024 uit te brei. AfriForum sal ook aanstaande jaar op ’n nasionale vlak ’n selfs groter fokus op die vestiging, versterking en uitbreiding van die organisasie se veiligheidstrukture plaas.

“AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag speel ’n uiters belangrike rol in die gemeenskap en die beveiliging daarvan. Sonder die lede se patrollering en ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander sekuriteitsmaatskappye, sou die veiligheidsituasie in hierdie gemeenskap veel slegter af gewees het,” verduidelik Benade.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings