| |

#MyWoonbuurt-projek: Park in Flimieda weer spoggerig ná skoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 9 Maart in samewerking met die LHFW-buurtwag en die DA hande gevat om die parkie in Lautzlaan in Flimieda netjies te maak. Die LHFW-buurtwag, onder leiding van Christo Hanekom, het ingespring en ’n groot verskil gemaak. Hanekom het ’n vragmotor van sy onderneming, Matlosana Roofing, beskikbaar gestel om die vullis te verwyder. Hulle het ook inwoners se vullis, wat nie deur die munisipaliteit verwyder is nie, verwyder. Die vullis en die boomtakke het drie trokvragte volgemaak, asook een stortbak.

Lede van die gemeenskap het met bossiekappers opgedaag en die gras gesny – die AfriForum-tak het die brandstof voorsien. Jackie Basson van die DA het wyk 16 se inwoners aangemoedig om te kom help. Deur saam te werk en hande te vat, het hierdie buurt se mense iets groot reggekry. Die volgende skoonmaakprojek word vir 23 Maart beplan.

“Die samewerking tussen Klerksdorp se AfriForum-tak en ander organisasies is ’n duidelike bewys dat saamwerk die kernwoord is. Stukkie vir stukkie sal Klerksdorp se gemeenskap ’n verskil maak en die verval teenwerk. Baie dankie aan lede van die gemeenskap wat gehelp het om die lone van die arbeiders te betaal,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings