|

Waterwysigingswetsontwerp: Geen rasionele verband tussen transformasiedoelwitte en voorgestelde maatreëls nie

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se voorneme om die toekenning van watergebruiklisensies en die voorsiening van waterdienste aan raskwotas te onderwerp is een van die vernaamste veranderinge op die Nasionale waterwysigingswetsontwerp. Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat daar geen rasionele verband tussen die regering se transformasiedoelwitte en die voorgenome maatreëls bestaan nie. Die lukrake wyse waarop die wetsontwerp beoog om transformasie op die watersektor af te dwing kan trouens tot groter ongelykheid lei.

AfriForum het vandag omvattende kommentaar op die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp, wat op 17 November 2023 in die Staatskoerant vir openbare deelname gepubliseer is, ingedien. Hierdie wetsontwerp beoog om wesenlike veranderings aan die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) en die Wet op Waterdienste (Wet 108 van 1997) aan te bring.

Verder is AfriForum ook gekant teen die onteiening van waterregte wanneer watergebruikers nie binne ’n spesifieke tydperk (wat nog nie vasgestel is nie) ten volle gebruik gemaak het van hul gemagtigde volume water nie. Reënval en weersomstandighede speel ’n beduidende rol op watergebruik. Met ander woorde, ’n boer kan in ’n gegewe seisoen sy gemagtigde volume water ten volle gebruik vir besproeiing, maar in ’n volgende seisoen net die helfte daarvan. Só ’n verandering is dus irrasioneel en behoort geskrap te word.

AfriForum is egter tevrede met verskeie van die DWS se voorgestelde wysigings wat in plek gestel gaan word om natuurlike waterhulpbronne te beskerm en om die bestuur van waterdienste te verbeter.

’n Wysiging op die Nasionale Waterwet wat wyd verwelkom word, is die strenger beskerming van strategiese waterhulpbrongebiede. Strategiese waterhulpbrongebiede, meestal geleë in bergagtige areas of vleilande, word beskou as “ekologiese infrastruktuur” wat, relatief tot die grootte daarvan, ’n disproporsionele hoë volume oppervlakwater afloop in die betrokke opvangsgebied produseer. Dit is daarom noodsaaklik om hierdie gebiede teen landbou, bosbou en mynbou te beskerm. AfriForum verwelkom ook die bepaling dat munisipale bestuurders persoonlik aanspreeklik gehou sal kan word vir oortredings van die Nasionale Waterwet, juis omdat die drastiese agteruitgang in die kwaliteit van natuurlike waterhulpbronne spruit uit die mislukking van plaaslike regering, sonder dat munisipale amptenare enigsins verantwoordbaar gehou word.

Verder sal beoogde wysigings aan die Wet op Waterdienste daartoe lei dat waterdienste owerhede, soos munisipaliteite, voortaan meer doeltreffend en deursigtig bedryf en bestuur sal moet word. Vereistes word byvoorbeeld vasgestel vir die kwalifikasie en ervaring van personeel – vanaf tegnici tot bestuursposte – en waterdiensteverskaffers sal voortaan goedgekeur en gelisensieer moet word voordat waterdienste gelewer mag word.

“AfriForum verwelkom verskeie van die voorgestelde wysigings wat nodig en prysenswaardig is, maar dit is nogtans ons taak om in die publieke belang op te tree en te verhoed dat gemeenskappe se gevestigde regte deur ondeurdagte en irrasionele wetswysigings vertrap word – veral ten opsigte van ’n kwessie so fundamenteel soos water. Daarom versoek ons die minister van Water en Sanitasie om die wysigings waarteen ons kapsie gemaak het, te heroorweeg,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Soortgelyke plasings