|

’n Slaggat elke drie meter! Inwoners spring self in om Parys-pad te herstel

Gradwellstraat in Parys is so deurtrek van die slaggate dat motoriste kan verwag om ’n slaggat elke paar meter op dié 350 m lange pad teë te kom. Die inwoners van hierdie straat was so keelvol gewag op die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit om die pad te herstel, dat AfriForum se Parys-tak se hulp ingeroep is.

Die tak het Saterdag (24 Februarie) altesaam 30 sakke teer aan die inwoners oorhandig sodat al die slaggate in Gradwell- tot by Uniestraat gevul kan word. Hoewel die tak bereid was om die sakke teer te skenk, het die inwoners nogtans besluit om ’n donasie te maak om ’n deel van die kostes te dek. Johan Smit, ’n inwoner van Gradwellstraat, het die voortou geneem en die teer gemeng om die slaggate te herstel.

“Hierdie is ’n sprekende voorbeeld van inwoners wat optree teen swak dienslewering. Hulle het hand aan die ploeg geslaan en self hul straat verbeter. Dit is wat elke inwoner in die land sal moet doen om hul woongebied te verbeter,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, sê dit is bemoedigend dat inwoners eienaarskap van hul dorp neem. “As die inwoners van elke straat ook die inisiatief neem, kan Parys binnekort weer soos ’n juweel lyk.”

Burger moedig die inwoners van Parys aan om by die AfriForum-tak betrokke te raak. Skakel Burger by 082 653 4281 vir nog inligting.

Soortgelyke plasings