|

Naboomspruit-tak spreek nood aan met nuwe waterpunt

Die Modimolle-Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit se wisselvallige dienslewering in Mookgophong (Naboomspruit) het AfriForum se Naboomspruit-tak genoodsaak om ’n 10 000 liter watertenk vir hierdie gemeenskap op te rig. Die broodnodige noodwaterpunt is by die boorgat van die Waterberg Sewendedag Adventiste-kerk se pastorie opgerig en word vir die inwoners beskikbaar gestel wat gereeld gebuk gaan onder watertoevoeronderbrekings. Dit kan boonop deur die brandweer en ander brandbestryders gebruik word om hul mobiele brandbestrydingseenhede op te vul.

Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder in Limpopo, sê die tak het die nood vir só ’n waterpunt besef nadat dit duidelik geword het dat die munisipaliteit versuim om heeltemal gehoor te gee aan ’n hofbevel wat hom in 2021 gedwing het om water volhoubaar aan Naboomspruit, Roedtan en Thusang te lewer.

“Die Wet op Waterdienste van 1997 bepaal dat elkeen die reg het tot basiese watervoorsiening en sanitasiedienste en dat elke instansie wat waterdienste lewer stappe moet neem om hierdie regte ’n werklikheid te maak. Die munisipaliteit is egter besig om dele van die bevel oor hierdie regte te verontagsaam en inwoners gereeld sonder water te laat. As gevolg hiervan het AfriForum sy regspan opdrag gegee om ondersoek in te stel na die moontlikheid om ’n minagtingsbevel teen die munisipaliteit te verkry,” sê Kotze.

In ’n opname wat AfriForum onder ongeveer 1 000 van sy lede in verskeie provinsies gedoen het, het 21% gesê hulle ervaar een of meer keer per week watertoevoeronderbrekings. Daarom het die burgerregteorganisasie reeds meer as 90 noodwaterpunte regoor die land opgerig om toegang tot skoon drinkwater te verseker wanneer daar watertekorte is.

AfriForum is daartoe verbind om te verseker dat gemeenskappe se grondwetlike reg tot skoon water nie geskend word nie, daarom is die Naboomspruit-tak ook in gesprekke met ander rolspelers oor die moontlikheid om in die volgende drie maande nóg noodwaterpunte vir inwoners op te rig. Meer noodwaterpunte sal ook brandbestryders help om vinnig toegang tot water te verkry.

Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor die Naboomspruit-tak se toekomstige projekte of kontak André van der Schyff by tesourier.naboomspruit@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings