|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het hierdie week twee groot oorwinnings in die hof behaal. Die een teen Julius Malema en die EFF en die ander teen die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit  om broodnodige herstelwerk aan die rioolstelsel in Klerksdorp te doen. AfriForum se takke het ook gehelp om misdadigers vas te trek en daar is teenboelie-praatjies by twee skole aangebied.

Malema en die EFF se aansoek om verlof tot appèl teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 bekom het, is in die Hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys. Hierdie interdik het Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om private eiendom te betree en dit onwettig te beset. Die hof het ook gelas dat Malema en die EFF AfriForum se koste moet betaal.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sal Malema en die EFF R102 092,30 aan AfriForum moet betaal. Dit tesame met ander betalings wat Malema en die EFF oor die afgelope paar jare aan AfriForum moes maak beloop R344 762,86.

“Hierdie uitspraak is ’n groot oorwinning vir private eiendomsreg en ’n groot slag vir diegene wat misdadigheid, geweld of wetteloosheid wil aanhits,” sê Van Zyl.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

AfriForum het reeds in 2021 ’n brief aan die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit gerig om dringend aandag aan die rioolaanleg te gee. Die meeste van die masjinerie werk nie met die gevolg dat rou riool in die Schoonspruit invloei. Die Hooggeregshof in Mafikeng het gelas dat die munisipaliteit binne 30 dae met herstelwerk aan die aanleg moet begin en na 90 dae oor die herstelwerk aan die hof verslag moet doen.

Petrus Coetzee, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum

In Parys het betogers Maandag chaos veroorsaak toe hulle strate met klippe versper het en JoJo-tenks aan die brand gesteek het om te kla oor die gebrek aan water in die dorp. Die Ngwathe-munisipaliteit het ongeveer 18 maande gelede ’n ooreenkoms met AfriForum onderteken waarvolgens die probleme voorkom kon word as die munisipaliteit aan die aanbevelings gehoor gegee het.

“AfriForum het lankal gesien dat die watersituasie in Parys ’n tydbom is. As daar gehoor gegee is aan al AfriForum se roepe om hulp, kon hierdie situasie vandag verhoed gewees het. AfriForum is egter steeds bereid om hulp te voorsien, dit moet net aanvaar word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum het teenboelie-praatjies by die Laerskool Louis Leipoldt in Centurion en by die Laerskool Warmbad aangebied. Dié veldtog dien as bewusmaking oor afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Matteus, Karlien (graad 1) en die leerders van Laerskool Louis Leipoldt

Vyf beweerde wildstropers is met die hulp van AfriForum se Naboomspruit-buurtwag en Rural Safety Naboomspruit vasgetrek. Die vyf verdagtes is gevind met gereedskap wat vir stropery gebruik word, vyf gestroopte vlakvarke en ’n onbekende aantal honde.

Soortgelyke plasings