|

Selfs skoolkinders help Klerksdorp-tak om park te tem

Die bereidwilligheid om die Doringkruin-woonbuurt in Klerksdorp te verbeter was die afgelope naweek in oorvloed toe uiteenlopende groepe mense aangebied het om saam met AfriForum se Klerksdorp-tak die park in Karoblaan skoon te maak. Die Doringkruin-buurtwag, inwoners van dié buurt, leerders van ’n nabygeleë skool en selfs werkers van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit het almal saamgespan om van hierdie projek ’n sukses te maak.

Die vrywilligers het almal deur die loop van die naweek hand bygesit om die toegegroeide park te tem. Die park en sypaadjie se hemelhoë gras is gesny, onkruid is uitgehaal en sakke vol vullis is opgetel en verwyder. Deurentyd het die gemeenskap van Doringkruin kos, water, koeldrank, lekkernye en selfs ’n handjievol donasies aangedra om die vrywilligers te ondersteun. Ná al dié harde werk kan die inwoners eindelik weer van die park gebruik maak.

“Hierdie samewerking is ’n toonbeeld van die verskil wat gemaak word wanneer ’n gemeenskap saamstaan om hul woonbuurt in stand te hou. Die verval van woonbuurte, dorpe en stede word al hoe meer algemeen, tensy inwoners self inspring en iets daaraan doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die jongste instandhoudingswerk vorm deel van AfriForum se #MyWoonbuurt-projek. Hierdie projek fokus op die herstel, instandhouding en skoonmaak van infrastruktuur in ’n woonbuurt. Die sukses van dié projek word egter bepaal deur die inwoners se positiewe ingesteldheid oor hul buurt.

“Ek is trots op dit wat die inwoners van Doringkruin vermag het deur mekaar se hande te vat. Die optrede het selfs die munisipaliteit geïnspireer. Die #MyWoonbuurt-projek onthef nie die munisipaliteit van sy verpligtinge nie, daarom is dit bemoedigend om te sien dat daar samewerking was,” sê Pretorius.

Hoe meer inwoners by AfriForum betrokke raak, hoe meer hande is daar om van Doringkruin ’n spogbuurt te maak. Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Klerksdorp-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings