|

SOS verkry regsmening oor regmatigheid van onteiening van openbare skole

Openbare skole moet altyd gereed wees om hulself teen die aanslae uit verskeie oorde van die regering te verdedig. As dit nie die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wet) is nie, dan is daar sprake van parallel- of dubbelmediumonderrig. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ’n regsmening ingewin oor die regmatigheid van art. 55 van die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 wat die onteiening van skole se onroerende eiendom moontlik maak. Dit kan dalk die sleutel vir staatsondersteunde skole inhou om meer onafhanklik te word. Dié regsmening is gister tydens ’n paneelgesprek op die SOS se Leierskapkongres in Midrand bespreek.

“Meer en meer Afrikaanse skole kontak ons omdat hulle bekommerd is oor die inmenging van die onderwysdepartement, verengelsing en ’n groeiende skuldlas wat veroorsaak word deur onder meer die duur pryse van die departement se standaard kontrakteurs. Die vraag na groter selfstandigheid is die onderliggende behoefte,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS

’n Oos-Kaapse skool het die SOS gekontak omdat dié skool op die randjie van bankrotskap staan en dringend hulp nodig het. Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat staatsondersteunde skole se eiendom aan die staat behoort is daar in hierdie geval gevind dat die skool se titelakte in die naam van die skool is. Dit het die SOS genoop om ’n regsmening in te win oor wat die skool dalk te doen staan. Die regsmening fokus spesifiek op die oorgangsbepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet met die oorgang tot die nuwe onderwysbedeling.

Staatsondersteunde skole is in effek van hul onroerende eiendom onteien ná ’n enkele aankondiging in die Staatskoerant in September 1997. Volgens dié aankondiging het skole 30 dae gehad om vertoë teen dié besluit te rig. Adv. Albert Lamey, een van die sprekers op die paneel, meen die proses wat destyds gevolg is, is ongrondwetlik.

“Indien die staat ’n kennisgewing vir onteiening uitstuur, moet dit direk na die betrokke party gestuur word. As dit nie die geval was nie, en dit lyk nie of dit was nie, is die proses onregmatig gevolg,” sê Lamey.

Adv. Albert Lamey

Ander skole het ook by die kongres gesê hulle skole se titelaktes is in die skool se naam. Van dié skole het aangedui die titelaktes is eers ná die draai van die millennium in hul naam uitgemaak.

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het tydens die paneelgesprek gesê daar is regsgronde om in te gryp waar die staat te veel by skole se bestuur inmeng.

“Die staat beweeg al nader aan skole en ons kan hierdie regsmening aanwend om beheerliggame te beskerm en Afrikaanse skole volhoubaar te bedryf. ’n Skool wat weet hulle eiendom kan nie by hulle afgeneem word nie, is in ’n veel beter posisie om vir die toekoms te beplan,” sê Human.

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging

Daar word beraam dat staatsbeheerde skole in sommige gevalle soveel as 80% self befonds word met die staat wat eintlik ’n klein aandeel in die skool se befondsing het, maar steeds groot beheer oor die skool wil uitoefen. Buys stel heeltemal onafhanklike skole in die vooruitsig.

“Die SOS streef na groter selfstandigheid van skole. Die afwenteling van besluitnemingsmag en eienaarskap na skoolvlak, is ’n internasionale neiging in toponderwyslande – behalwe in Suid-Afrika. Goeie openbare skole in Suid-Afrika ervaar al meer staatsbeheer, maar al minder staatsondersteuning.”

Die SOS wil graag help om ’n proses te fasiliteer waar verskeie skole die moontlikhede van hierdie regsmening verder kan ondersoek. Vir navrae kontak Buys by melanie@skole.co.za.

Soortgelyke plasings