|

Noord-Kaapse waterkrisis: Blougroenalg walg en Kimberley steeds sonder water

Die inwoners van Kimberley is al vir weke lank sonder water met geen vooruitsig oor wanneer watertoevoer herstel sal word nie. Verder blyk dit dat die Noord-Kaapse Departement van Water en Sanitasie (DWS) nie veel gepla is oor die lewensgevaarlike blougroenalge wat in die Vaalrivier gevind is nie. AfriForum het antwoorde onderskeidelik van DWS en die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit versoek oor hul aksieplanne ten opsigte van hierdie probleme.

AfriForum eis dat watertoevoer in Kimberley binne 48 uur herstel word. Dit volg ná inwoners van dié dorp vir weke lank sukkel met beperkte of geen toegang tot water. Die organisasie is van mening dat die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit inwoners se grondwetlike reg tot toegang tot water skend deur nie aan die minimum standaarde van watervoorsieningsdienste te voldoen nie. Dié minimum vereistes dui onder meer op individue se reg tot 25 liter drinkbare water per dag wat teen ’n minimum koers van 10 liter per minuut vloei.

Die organisasie versoek onder meer ’n aksieplan met ’n uiteensetting van hoe die munisipaliteit van plan is om watertoevoer doeltreffend te herstel, asook inligting oor al die waterpunte wat die munisipaliteit intussen beskikbaar gestel het. AfriForum het ook weereens sy hulp aan die munisipaliteit aangebied sodat daar spoedig oplossings gevind kan word.

“Ons het in die verlede aangebied om die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit in ’n raadgewende rol te help met oplossings. Die welstand van ons lede en die breër gemeenskap in Kimberley is prioriteit, dus staan ons aanbod aan die munisipaliteit steeds. Die munisipaliteit kan op hierdie stadium nie bekostig om neusoptrekkerig te wees wanneer hulp aangebied word nie,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Intussen het AfriForum ook sy kommer uitgespreek oor die blougroenalge wat in die Vaalrivier gevind is. In ’n skrywe aan DWS in die Noord-Kaap beklemtoon die organisasie dat blougroenalge onveilig is vir mens en dier – blougroenalge kan lewensgevaarlik wees indien dit ingeneem word. Verder wil AfriForum ook weet watter stappe DWS beplan om te doen teen die persone wat verantwoordelik is vir die behandeling van die water ten einde te verhoed dat skadelike bakterieë posvat. 

DWS het intussen in ’n e-pos aan AfriForum bevestig dat hulle reeds op 23 November die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit in kennis gestel het dat daar blougroenalge in die Vaalrivier gevind is. Die munisipaliteit is aangeraai om die gemeenskappe langs die Vaalrivier te waarsku om nie die water te drink nie.

Volgens die departement het die onlangse hittegolf (20 November tot 29 November) gunstige toestande geskep vir blougroenalge om te groei en versprei in die rivier. Die departement het aangedui dat hulle wel besig is om verskeie strategieë te oorweeg om weg te doen met die blougroenalge. 

AfriForum het in lig van dié waterprobleme besluit om op 4 Desember die water by Riverton te toets ná ’n klagte van rioolstorting in die Vaalrivier onder die organisasie se aandag gekom het.

Soortgelyke plasings