|

Nuuskommentaar: Die wind begin duidelik draai teen rassediskriminerende beleide

Ek is hierdie week genooi om ’n spreker te wees by ’n seminaar oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat deur Kagiso Capital, FirstRand Empowerment Foundation en die Kagiso Trust aangebied is. Die seminaar getiteld “Beyond the façade: The bittersweet reality of B-BBEE” het ’n kritiese hoek bevat rakende rasse-beleid wat ongewoon is vir geleenthede van hierdie aard.

AfriForum se uitnodiging na dié geleentheid, asook die hoogs positiewe wyse waarop my insette ontvang was, dui daarop dat daar ’n gewilligheid en begeerte by die sakegemeenskap is om krities oor die onderwerp van SEB te begin gesels. Daar vind ’n duidelike verskuiwing plaas in die tydsgees. Die wind begin draai, al is dit tans slegs ’n verfrissende briesie. Geleenthede soos hierdie dien as windkous in hierdie verband.

Rassediskriminerende beleide en -wetgewing in Suid-Afrika word toenemend moeiliker om te verdedig.

Dus begin die sakegemeenskap, asook figure binne die SEB-wêreld, uitreik na alternatiewe stemme buite die pro-diskriminasiekringe.

Een van die sprekers het in hul voorlegging genoem dat daar vele stemme is wat gretig is om SEB te kritiseer, maar dat hierdie stemme gewoonlik swyg in die noem van alternatiewe. Toe ek my spreekbeurt kry, het ek dus begin deur te sê dat ek na aanleiding van hierdie opmerking my kommentare gaan fokus hoofsaaklik op alternatiewe oplossings.  

My eerste en tweede oplossings het beide met onderrig te doen gehad. Eerstens moet die regering ophou om geld in die rigting van onderwys te gooi en te verwag dit gaan die wanfunksionering oplos. Daar moet ernstig gekyk word na die wortels van die onderwysstelsel se mislukkings. Tweedens moet daar uiteindelik, ná amper 30 jaar, meer klem gelê word op die waarde van moedertaalonderrig. Een van die redes waarom Afrikaners so hard veg dat ons kinders in Afrikaans onderrig ontvang is juis omdat ons die waarde van moedertaalonderrig verstaan.

Elke studie dui daarop dat kinders wat onderrig ontvang in die taal waarin hulle dink en droom, beter presteer as die wat nie hierdie geleentheid het nie.

Die toksiese filosofie dat jy slegs iemand kan bemagtig deur iemand anders te benadeel, moet op die ashoop gegooi word. Jy vul nie ’n ou slaggat deur ’n nuwe een te grawe nie. Daar moet ’n kopskuif plaasvind vanaf ’n benadering gefokus op afbreek, benadeel, wegvat, straf en uitsluit, na ’n benadering gesentreer rondom bou, uitbrei, geleenthede en skeppende vernuwing. In hierdie oplossingsindustrie het die Solidariteit Beweging reeds ’n beproefde rekord van sukses wat dien as voorbeeld.

Ek het ook genoem dat daar vele lesse te vinde is in Afrikaners se eie geskiedenis van veg en wen teen ekstreme armoede. Die Helpmekaar Beweging bewys dat ’n gemeenskap homself kan bemagtig sonder om staatsafhanklik te word of om ander te smeek om jou op te hef. Die valse narratief dat Afrikaners se primêre voertuig uit armoede die staat was, is baie gerieflik vir die sentralistiese ANC en EFF, maar ’n bestudering van die geskiedenis vertel ’n ander verhaal.

As burgerregteorganisasie sal AfriForum geleenthede soos hierdie aangryp en ’n produktiewe rol speel om te verseker dat alternatiewe oplossings op die tafel is. Ons sal ons deel doen om toe te sien dat die seile aangepas word om die veranderende wind te vang.

  • Van Zyl is hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum.

Soortgelyke plasings