| |

Paarl-Noord-buurtwag laat nie op hom wag as dit by gemeenskapsveiligheid kom nie

AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag het verlede week proaktief opgetree om misdaad te bekamp deur geleentheidsmisdadigers wat toeslaan wanneer vullisverwyderingsdienste in die gebied doenig is, in hul spore te stuit. Die buurtwag beplan nou om nóg meer op gemeenskapsveiligheid te fokus deur inwoners in staat te stel om hulself te beskerm.

Die buurtwag het onlangs in samewerking met plaaslike veiligheidsmaatskappye patrollies in Lang- en Aandblomstraat, en Langstraatbrug gery om kriminele elemente uit die gebied te hou. Die lede het tussen 06:00 en 09:00 alle voetgangers se bewegings in die woonbuurt gemonitor. Fidelity ADT, Wolf Security Solutions, PACRS, Dogs and All Security Services en Vetus Schola was by die patrollering betrokke.

Jaco Prins, voorsitter van AfriForum se Paarl-Noord-tak, sê daar was al verskeie voorvalle waar mense wat deur vullisblikke grawe, ook by huise in die gebied inbreek en helder oordag met gesteelde goedere uit die woongebied loop.

“Die teenwoordigheid van die buurtwag en ander privaat veiligheidsmaatskappye ontmoedig misdadigers om misdaad te pleeg, daarom was hierdie operasie so suksesvol,” sê Prins.

AfriForum wil ’n groter fokus op gemeenskapsveiligheid plaas, daarom beywer dié buurtwag hom om inwoners te help om hulself te verdedig. AfriForum se Paarl-Noord-tak bied eerskomende Saterdag (24 Februarie) ’n gratis selfverdedigingswerksessie vir mans en vroue aan. Die sessie is saamgestel met die oog op uitdagings wat Suid-Afrikaners daagliks teëkom. Dit behels ook praktiese en doeltreffende tegnieke om veiligheidskwessies te hanteer.

Die tak nooi lede van die gemeenskap uit om aan die werksessie deel te neem:

  • Datum: Saterdag 24 Februarie
  • Tyd: 09:30 vir 10:00 (Die sessie gaan ongeveer vier uur duur.)
  • Plek: Die Paarl Boxing Academy, The Towers-gebou, hoek van Lady Grey- en Hoofstraat, Paarl

Daar is slegs 30 plekke beskikbaar, daarom moet besprekings so gou moontlik gemaak word. Stuur jou naam en van na Wena Bartie by 082 480 6905 om jou plek te verseker.

Raak betrokke by AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag en help om jou omgewing veilig te hou. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings