|

Nuuskommentaar: Diversifiseer jou oplossingsportefeulje

Verkiesingsjare word veral geken aan groot beloftes en die slinkse gesmous van kitsoplossings. 2024 is geen uitsondering nie. Politieke partye hou ewe skielik wonderbaarlike alheilmiddels vir elke denkbare politieke kwaal voor, wat hulle nou gretig aan ons probeer afsmeer. Politieke partye is egter nie die enigstes wat hulself skuldig maak aan die bemarking van oombliklikebevredigingsretoriek nie. Net soos kitsrykwordskemas se aanloklikheid lê in hoe vinnig en goedkoop mens méér geld kan maak, verskaf politieke kitsoplossings soortgelyke verleidende aas wat op ons basiese drange afgestem is. Om al jou tyd en aandag in dié kitsoplossings te investeer is net so gevaarlik vir jou toekoms as wat beleggings in kitsrykwordskemas vir jou finansiële sekuriteit is.

Die probleme en aanslae waarmee Afrikaners vandag gekonfronteer word, is opnuut kompleks en veelsydig; dus behoort die wyses waarop ons dit benader en daarop reageer na verwagting ook kompleks en veelsydig te wees. Nes die kwaksalwer wat sy “wondermedisyne” as ’n eenvoudige, eenstopblitsremedie vir al jou kwale probeer verkoop, bemark die kitsoplossingboerebedrieërs ook hul planne as alheilmiddels. Wees veral op jou hoede vir diegene wat daardie soort finansiële of politieke oplossings aan jou probeer verkoop wat wonderbaarlik min opofferings of insette van jou kant af vereis.

Nes ’n stewige beleggingsportefeulje kan en moet ons portefeulje van oplossings ook divers en gebalanseerd wees; nes die opstel van ’n betroubare beleggingsplan tyd, geduld én moeite verg, vereis die tot stand bring van volhoubare oplossings soortgelyke opofferings. Jy kan moontlik oor die kort termyn geld maak deur te gaan dobbel, maar geen ouer met gesonde verstand gaan casino toe om hul kinders se studies te befonds nie.

Verskillende strategieë kan natuurlik soms bots, maar in vele gevalle mekaar ook komplimenteer en aanvul. ’n Weermag maak gebruik van ’n verskeidenheid eenhede en magte – van infanterie tot meganies, van land tot lug tot see. Die strategiese samewerking van hierdie verskillende eenhede of magte het ’n magsvermenigvuldigende effek. Die gebruik van een op ’n sekere stadium, skakel nie noodwendig die nut van ’n ander onder verskillende omstandighede uit nie. In Afrikaners se eie bestaanstryd neem hierdie diversifikasie die vorm aan van organisasies wat elkeen op verskillende belangrike terreine spesialiseer. Een fokus byvoorbeeld op onderwys, terwyl ’n ander veiligheid baasraak.

Gesonde kompetisie tussen soortgelyke, tog verskillende, organisasies op dieselfde terrein is ook welkom en bevorder positiewe ontwikkeling. Die enigste organisasies wat nie produktief is nie en nie ’n positiewe bydrae tot ons oorlewingstryd lewer nie, is dié wat slegs daarin spesialiseer om ander retories te opponeer en te kritiseer. Soos N.P. van Wyk Louw geskryf het, “Daar is ’n ander revolusie aan die kom. Dit is die opstand teen kritiek wat onmagtig is om die leiding te gee wat hy hom aanmatig.”

Die goue maatstaf om te bepaal of ’n organisasie sy sout werd is, moet die vraag wees: Wat is al gebou of gevestig, veral vir die volgende geslag? Hou ook in gedagte dat daar vanuit vele organisasies, oorde en hoeke gebou kan word. Ons kan ondanks onderlinge verskille saamwerk tot ’n gemeenskaplike doel vanuit verskillende vertrekpunte en met uiteenlopende benaderings. Onthou, die Groot Trek het langs meer as een roete plaasgevind en tog gemeenskaplike bestemmings bereik.

* Ernst van Zyl is hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum.

Soortgelyke plasings