|

Nuuskommentaar: Gaan politici ooit werklik aanspreeklik gehou word?

Hofsake waarby politici betrek word, sloer al hoe meer en langer weens hulle slinkse uitsteltegnieke (ook Stalingrad-tegnieke genoem) en Suid-Afrikaners is toenemend wantrouig oor of hierdie mense ooit vir hul dade sal boet.

Die wapenskandaalsaak van oudpresident Jacob Zuma is vandeesweek (17 April) weer vir die soveelste keer uitgestel. Dié keer nadat sy regspan aangedui het dat hulle nóg ’n aansoek gaan ingedien om die staatsaanklaer adv. Billy Downer van die saak te laat verwyder. Hierdie aansoek sal eers in Augustus aangehoor word. Zuma het vlugtig op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn. Dié saak sloer al vir meer as 20 jaar.

Zuma voer aan dat hy nie regverdig verhoor sal word nie indien Downer as staatsaanklaer aanbly omdat hy (Zuma) hom privaat laat vervolg. Hy het ook ’n aansoek ingedien om die joernalis Karhyn Maughan privaat te vervolg omdat hy beweer Downer het sy mediese verslae aan haar gelek.

Hierdie is ’n bewys van die uitsteltaktiek wat Zuma en sy regspan gebruik aangesien hulle in 2021 ’n soortgelyke aansoek teen Downer gebring het wat ná ’n jaar se aansoeke en appèlle in Desember 2022 deur die Konstitusionele hof van die hand gewys is. Zuma het ook Maandag voor ’n nuwe regter in die saak verskyn nadat regter Piet Koen in Februarie van die saak onttrek het. Van uitstel kom afstel en baie Suid-Afrikaners meen die 81-jarige Zuma sal nooit aan die pen ry nie en dat die sake teen hom maar net die heeltyd uitgestel gaan word.

Twee ander sake wat vanjaar voortgaan, is ook vertraag omdat die persone se regsverteenwoordigers nie betaal is nie. Dit terwyl dit alombekend is dat sommige politici in Suid-Afrika van die hoogs betaalde mense in die land is.

Die artikel 194-komitee wat die geskiktheid van Busisiwe Mkwebane, geskorste Openbare Beskermer ondersoek, het vandeesmaand begin sloer nadat die OB-kantoor aangedui het dat daar net tot einde Maart begroot is om vir haar regskoste te betaal. Die OB het aangedui dat sy nie verder gaan getuig nie omdat sy geregtig is op regsverteenwoordiging van haar keuse, naamlik adv. Dali Mpofu (SC), en dat sy nie geld het om hom te betaal nie.

Mkwebane beweer die staat, wat reeds etlike miljoen rande vir die saak opgedok het, is verantwoordelik vir haar regskoste en as dit nie betaal word nie, kan die sitting nie voortgaan nie.

Alhoewel Mkwebane sedertdien nie weer getuig het nie, is daar steeds voortgegaan met vergaderings sodat getuienisleiers van die komitee ’n beter begrip aan komiteelede kon gee oor die hofsake waarby sy betrek word. Dit is nog onduidelik of en wanneer die OB weer gaan getuig.

Die geregtelike ondersoek na die tragiese gebeure by Life Esidimeni, toe psigiatriese pasiënte in 2016 van dié hospitaal na verskeie nieregeringsorganisasies geskuif en dood is, is ook nog nie afgehandel nie. Die ondersoek moes vroeg in April tot Mei uitgestel word nadat Qedani Mahlangu, voormalige LUR van Gesondheid in Gauteng, se regsverteenwoordiger, Laurence Hodes, aan die hof gesê het hy is nie vergoed nie en dat die saak vir ’n maand uitgestel moet word.

Mahlangu was aan die stuur van die gesondheidsdepartement toe 144 pasiënte gesterf het toe hulle uit Life Esidimeni geskuif is en was veronderstel om in die Hooggeregshof in Pretoria te getuig.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens ’n slagoffer se suster ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op en het verlede jaar al aangevoer dat niemand bereid is om aanspreeklikheid te aanvaar vir hierdie totale gebrek aan respek vir menswaardigheid en menselewens nie.

Dit laat mens met die vraag: Gaan hierdie mense ooit in die tronk beland of boet vir hul dade?

Soortgelyke plasings