|

AfriForum se Nelspruit-tak maak pad skoon

Die AfriForum-tak in Nelspruit het op 18 Maart 2022 in samewerking met Wecare4Nelspruit en die Claremont GPF die kante van die Uitkyk-pad skoongemaak. Dié pad was erg toegegroei met bome en bosse wat stuk-stuk in die pad ingegroei het wat die pad vir voetgangers versper het. Dit het veroorsaak dat drawwers of fietsryers wat graag op die pad oefen in gevaar gestel is vanweë die feit dat daar geen padskouer vir hulle was om op te oefen nie.

Die takke is gesnoei, gras is gesny en hope grond is van die padoppervlak verwyder sodat stormwaterdreine weer doeltreffend kan funksioneer.

“Ons is opgewonde om te sien hoe gemeenskappe kan saamkom en ’n projek soos dié suksesvol aanpak om verandering in hulle omgewings te bring. Infrastruktuur vergaan as daar geen instandhouding plaasvind nie en dit is presies wat hier gebeur het,” sê TJ Mare van WeCare4Nelspruit.

“Dit is belangrik dat ons gemeenskappe besef dat verandering nie gaan plaasvind tensy ons selfdoen en self inspring om projekte soos dié van stapel te stuur nie. Dit is vir ons verblydend om te sien hoe die Claremont-gemeenskap bymekaargekom het om ook hierdie probleem wat hulle gehad het, op te los,” sê Arlo Van Heerden AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Nelspruit-tak nooi graag die publiek uit om deel te raak van die projek. SMS “Nelspruit” na 45340 om betrokke te word.

Soortgelyke plasings