|

Nuuskommentaar: Ramaphosa is veronderstel om ’n beter voorbeeld te stel

President Cyril Ramaphosa was enkele dae uit mekaar in die nuus vir redes wat op die oog af lyk of dit niks met mekaar te doen het nie, maar wat inderwaarheid bevestig wat baie Suid-Afrikaner reeds lankal weet: Die president en sy ANC-regering het nie die antwoorde vir die land se probleme nie, hulle is die grootste van al die probleme.

Ramaphosa het die sakesektor in sy nuusbrief aangemoedig om die matrikulante van 2023 werk te gee om hulle sodoende uit armoede te help. Dis natuurlik prysenswaardig om armoede by die horings te pak, maar daar is twee ooglopende probleme met wat die president versoek. Die eerste is dat die regering privaat ondernemings met allerlei wetgewing verhoed om hul volle potensiaal te bereik. Dit lei daartoe dat ondernemings stadig of glad nie groei nie en om dan so ’n onderneming te vra om nuwe werknemers in diens te neem, is verregaande.

Teen die tempo waarteen die ANC-regering belastingbetalers se geld vermors of steel, is dit onwaarskynlik dat hulle self baie van 2023 se matrikulante in diens sal neem. Die gelukkige paar wat wel sal werk kry, sal sekerlik iemand moet ken wat kaderverbindings het. Tog val die president se woorde mooi op die ore van ’n groep jongmense wat vanjaar die eerste keer hul kruisie by ’n verkiesing sal trek. Ramaphosa en adj.pres. Paul Mashatile was juis Sondag in die nuus omdat hulle glo ’n lugmagvliegtuig gebruik het om partypolitieke geleenthede by te woon. Volgens ’n berig in Rapport het ’n lugmagstraler tussen 5 en 15 Januarie verskeie vlugte tussen Kaapstad, Pretoria en Nelspruit onderneem. Die vlugte is onder die roepsein LMG2 onderneem. Die roepsein LMG2 word gewoonlik vir die adjunkpresident gebruik en LMG1 vir die president.

Dr. Naledi Pandor, minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, was ook verlede week in die nuus. Die staat het sedert 2019 nagenoeg R47 miljoen op vlugte, verblyf en dies meer vir die minister en haar personeel opgedok. Pandor het verduidelik dat daar vir hierdie uitgawes in die departement se kern-bedryfsbegroting begroot is, maar die DA het die uitgawes bevraagteken omdat daar op ander staatsbegrotings soos die vir behuising, gesondheid en onderwys gesnoei word.

Die VF Plus het juis die Openbare Beskermer gevra om ondersoek na Ramaphosa en Mashatile se gebruik van die lugmag se straler in te stel. Dit sal interessant wees om te sien wat van hierdie ondersoek kom. Intussen kom ’n mens tot die gevolgtrekking dat die ANC-regering soos gewoonlik mooipraatjies maak oor sake wat stemme werf terwyl hul kiesers steeds onder die swak regering ly. ’n Mens sou hoop dat die president die regte voorbeeld sou stel, maar dat hy direk by die vermorsing van belastingbetalers se geld geïmpliseer word, is alles behalwe ’n goeie voorbeeld. ’n Mens kan maar net hoop dat genoeg kiesers in 2024 wakker skrik en vir ’n opposisieparty stem.

Soortgelyke plasings