|

Nuwe boek en dokumentêr werp lig op unieke historiese én hedendaagse band tussen Afrikaners en Hongare

Afrikaners en Hongare het as twee skynbaar uiteenlopende kultuurgemeenskappe, aan verskillende uiteindes van die aarde, dalk meer in gemeen as wat dit op die oog af mag lyk. Boonop kan Afrikaners as ’n minderheidsgroep in Suid-Afrika, soos in die verlede, vandag nog kers opsteek by die politieke lesse wat Hongare geleer het en nou nog – ten spyte van internasionale teenkanting – suksesvol uitleef. Dít word duidelik in die nuwe dokumentêr, Boers in Carpathia, en boek getiteld, Verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare, 1652–2023, wat AfriForum môre in Pretoria bekendstel.

Volgens Ernst Roets, hoof van Beleid en Strategie by die Solidariteit Beweging, regisseur van Boers in Carpathia en voormalige hoof van Strategie en Internasionale Skakeling by AfriForum, is daar verskeie parallelle tussen die geskiedenisse en erfenisse van Afrikaners en Hongare. In dié dokumentêr word daar onder meer ondersoek ingestel na die bedreiging van kulturele identiteit waarmee albei gemeenskappe gekonfronteer word en die maniere waarop dié gemeenskappe tans bande smee en idees uitruil oor die skep van ’n beter toekoms vir hul onderskeie kulture. “Ons kyk ook na die merkwaardige verskynsel waarin die idees wat die Hongaarse bedeling onderlê, op internasionale vlak gekritiseer word, ten spyte daarvan dat Hongarye ’n suksesvolle en florerende staat is, terwyl die idees wat die Suid-Afrikaanse regering onderlê, geweldig geprys word al is die Suid-Afrikaanse staat besig om skouspelagtig te misluk,” benadruk Roets.

Ten opsigte van ’n historiese perspektief, bied die boek Verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare, 1652–2023, deur Ilze Nieuwoudt, mediabestuurder by AfriForum, vir die eerste keer ’n blik op die historiese bande wat Afrikaners en Hongare reeds sedert die 17de eeu op verskeie terreine gehandhaaf het. Die wyse waarop Afrikaners kort vóór die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) gewys het op die lesse wat geput kan word uit die Hongaarse vryheidstryd van die 1840’s; ’n versoek uit die 1890’s van ’n Hongaarse gemeenskap vir die vestiging van ’n Hongaarse dorp in die ZAR; en die deelname van Hongare aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is enkele van die minder bekende gevalle waar Afrikaners en Hongare in die verlede kontak gehad het. Daarbenewens word ondersoek ingestel na die hulp wat verskeie Afrikanerinstellings, kerke, skole en die toenmalige Suid-Afrikaanse regering in die 1950’s gebied het aan die nagenoeg 1 500 Hongaarse vlugtelinge wat hul in Suid-Afrika kom vestig het ná die bloedige Hongaarse Revolusie wat in 1956 in daardie land plaasgevind het. Voorts kom die verhoudinge wat veral sedert die einde van die Koue Oorlog tussen Hongare en Afrikaners gesmee is, die vestiging van onder meer die Hongaars-Suider-Afrikaanse Vriendskapsvereniging (HSAV) in 2021, en die uitruiling van intellektuele en tegnologiese innovasie tussen Hongare en Afrikaners ook onder die soeklig in dié publikasie.

“Afrikaners en Hongare se geskiedenisse vertel beide die verhaal van kleiner kultuurgemeenskappe wat deur die eeue heen binne ’n see van andersheid steeds strewe na vryheid, en dié storie is nog lank nie klaar geskryf nie,” verduidelik Nieuwoudt.

“Die wyse waarop verskeie Hongare – soos die nyweraar Alois Hugo Nellmapius in die 1800’s en die latere Hervormde Kerk-leraar ds. Kálmán Papp – in Suid-Afrika ’n merk op onder meer ekonomiese, geestelike en wetenskaplike gebied gemaak het, maak hierdie verhaal van Afrikaners en Hongare juis te meer kleurvol.”

Boers in Carpathia en Verhoudinge tussen Afrikaners en Hongare, 1652–2023 word môre by die AfriForum Teater in Pretoria bekendgestel. Die lokprent vir die dokumentêr is beskikbaar op AfriForum se YouTube-kanaal.

Soortgelyke plasings