|

Paulpietersburg- en Pongola-tak dien voorstelle vir GOP’s in

AfriForum se Paulpietersburg- en Pongola-takke het onlangs hulle voorstelle vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) onderskeidelik by die eDumbe Plaaslike Munisipaliteit en die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit ingedien. Die takke het onder meer voorgestel dat ’n groter gedeelte van die begrotings aan infrastruktuur instandhouding en herstelwerk spandeer moet word. Verder het die takke ook kommer uitgespreek oor die hoeveelheid onreëlmatige uitgawes van dié munisipaliteite.

Elke jaar kry gemeenskapslede die geleentheid om voorstelle by hul munisipaliteite in te dien wat dan oorweeg sal word vir munisipaliteite se GOP’s. AfriForum se takke landswyd neem deel aan hierdie proses en vorige voorstelle is al in die GOP’s opgeneem en uitgevoer.

eDumbe Plaaslike Munisipaliteit

Die Paulpietersburg-tak stel onder meer voor dat die elektrisiteitsverspreidingsnetwerk opgegradeer word, ’n nuwe vullisterrein in plek gesit word en dat rioollekkasies herstel word.

Die tak het hul kommer uitgespreek oor die munisipaliteit se onreëlmatige spandering van R28,6 miljoen. Voorts meen die tak dat die munisipaliteit moet optree om rekeninge te vereffen aangesien 82% van rekeninge nie verhaal word nie. Dit neem rekeninghouers ook gemiddeld 111 dae om hul rekeninge te vereffen.

Verder versoek die tak dat die munisipaliteit die persentasie fondse wat aan instandhouding en herstelwerk spandeer word verhoog word na 11%. Die munisipaliteit het in 2021/2022 slegs 4.7% (R6,1 miljoen) aan instandhouding en herstelwerk spandeer in plaas van die nasionale tesourier se voorgestelde minimum van 8%.

“Ons is egter ook bekommerd oor die ouditeur generaal se bevinding dat daar by die eDumbe-munisipaliteit ook onmededingende en onregverdige verkryging was – ons eis dat voorsorg getref moet word om regverdigheid te verseker,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Volgens Martin Dedekind, voorsitter van AfriForum se Paulpietersburg-tak, is deelname aan die GOP-proses nodig ten einde te verseker dat die munisipaliteit bewus is van die gemeenskap se behoeftes en bekommernisse.

uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum se Pongola-tak het hul kommer uitgespreek oor die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit se onreëlmatige besteding van R68,5 miljoen – dit is hoër as vorige jare se onreëlmatige besteding. Daarbenewens het die ouditeur generaal bevind dat onmededingende en onregverdige verkryging ook by hierdie munisipaliteit plaasgevind het, die tak eis dat voorsorg getref word om soortgelyke onregverdigheid in die toekoms te voorkom.

Voorts is dit ook vir die tak kommerwekkend dat 89% van die munisipaliteit se rekeninge nooit verhaal word nie en dit neem gemiddeld 94 dae voordat rekeninge vereffen word. Dít is ’n probleem wat die munisipaliteit dringend moet uitklaar ten einde daardie inkomste ook te genereer.

Hoewel die munisipaliteit in 2021/2022 9,6% van die begroting aan instandhouding en herstelwerk spandeer het versoek die tak onder meer dat die elektrisiteitsverspreidingsnetwerk opgegradeer word en dat straatligte wat nie werk nie vervang word.

“Verskeie strate in Pongola moet ook opgegradeer of herstel word en die bestuur van die vullisterrein laat veel te wense. Die munisipaliteit behoort hul verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom en moet gehoor gee aan die voorstelle wat tydens die GOP-proses ingedien word,” sê Marilda Schoombee, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings