| |

Nuwe toerusting help Nelspruit-buurtwag met pligte uitvoer

AfriForum se Nelspruit-buurtwag in Mbombela het in Maart vier nuwe voertuigradio’s sowel as drie paneelbordkameras ter waarde van R35 000 aangekoop. Hierdie toerusting sal help om die buurtwag se werksaamhede te verbeter en om kommunikasievermoë tydens patrollies te versterk.

Die nuwe toerusting stel die buurtwag in staat om vinniger en meer doeltreffend te kommunikeer, wat gevolglik help om reaksietye te verkort en misdadige aktiwiteite te bekamp. Die paneelbordkameras verskaf ook ’n belangrike bron van visuele bewyse ter ondersteuning van die buurtwag se werksaamhede.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons gemeenskap om hierdie toerusting te kon aanskaf. Dit is ’n bewys van die gemeenskap se betrokkenheid by die veiligheid van ons gebied,” sê Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-buurtwag.

AfriForum se Nelspruit-tak het verder ook weer die Steiltes-natuurreservaat  skoongemaak as deel van hul volhoubare projek. Hierdie inisiatief demonstreer die tak se toewyding tot die bewaring van die omgewing en die skep van ’n skoon en veilige ruimte vir die gemeenskap.

“Ons is vasbeslote om ons omgewing te bewaar en te verbeter vir die huidige en toekomstige geslagte,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.  

AfriForum se Nelspruit-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak en deel te neem aan projekte om die omgewing te bevorder.

“Samewerking is die sleutel tot sukses en ons waardeer die ondersteuning en betrokkenheid van elke individu in ons gemeenskap. Laat ons saamwerk om ’n veilige en leefbare omgewing vir almal te skep,” sluit Van Heerden af.

Soortgelyke plasings