| | |

ONLUSTE – SOLIDARITEIT BEWEGING SÊ AAN LEDE: BLY KALM EN ORGANISEER

Die Solidariteit Beweging het vandag by ʼn mediakonferensie sy ondersteuners aangemoedig om te midde van die onluste wat sekere dele van die land teister, hul weerbaarheid op te skerp, kalm te bly en by hul plaaslike buurtwag aan te sluit.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die faksiegevegte in die ANC wat aanvanklik tot die plundery aanleiding gegee, ʼn platform gebied vir kriminele elemente om die situasie te misbruik om te steel en te buit. Buys het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om die orde te herstel en die skuldiges aan te keer. Volgens Buys moet die publiek egter nie hul veiligheid en dié van hul gesinne en gemeenskappe net aan die SAPD oorlaat nie want hulle kan self baie doen om hul eie weerbaarheid binne die raamwerk van die wet te verskerp. “As jy jouself en jou gesin kan beskerm, kan jy ook jou bure beskerm. As jy jou bure beskerm, kan julle saam julle gemeenskap beskerm,” het Buys bygevoeg. Buys het mense aangemoedig om by een van AfriForum se buurtwagte wat landswyd gevestig is, of by ander gemeenskapsveiligheidstrukture aan te sluit.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê georganiseerde gemeenskappe hoef nie in vrees te verval nie en kan kalm bly in die wete dat hul veiligheid in hul eie hande is. Dit is volgens Kriel nie ʼn vreemde verskynsel dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid aanvaar nie, soos wat verskeie gemeenskappe in KwaZulu-Natal die afgelope paar dae gewys het. Afrikaners het ook in die geskiedenis telkens self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid aanvaar. “AfriForum het die afgelope paar jaar baie hulpbronne daarin belê om gemeenskapsveiligheidstrukture tot stand te bring en beskik reeds oor 159 buurtwagte, ʼn netwerk van beheerkamers, ʼn landswye radionetwerk, 12 500 buurtwag-vrywilligers, ʼn lugvleuel met 53 hommeltuig-vlieëniers en goed opgeleide personeel en vrywilligers. Benewens dit werk AfriForum saam met ʼn netwerk van ander buurtwagte, GPF-strukture, sekuriteitsmaatskappye en op talle plekke met plaaslike polisiestasies,” het Kriel gesê.

Volgens Kolonel Jan Wessels, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het AfriForum reeds by die aanvang van die onluste sy bestaande gemeenskapsveiligheidsplanne in werking gestel deur AfriForum se buurtwagte op bystand te plaas. Wessels het daarop gewys dat AfriForum se beheerkamers en grondvlakstrukture die situasie fyn monitor, dat riglyne aan AfriForum se buurtwagte gestuur is om hul bestaande veiligheidsplanne verder te verfyn met inagneming van die huidige omstandighede. Buurtwagte is gevra om sigbaarheid te verhoog en mekaar en ander rolspelers waar nodig by te staan. “AfriForum gaan nie by die konflikte op snelweë en ander prominente plekke betrokke raak nie, maar gaan wel al ons aandag fokus om binne die raamwerk van die wet gereed te wees om die veiligheid van woonbuurte waar ons funksioneer te help verseker,” het Wessels gesê.

Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om by een van AfriForum se buurtwagstrukture aan te sluit.

Die Solidariteit Beweging doen ook ʼn beroep op lede van die publiek om die Beweging se Krisisfonds te steun om Helpende Hand in KwaZulu-Natal in staat te stel om lewensmiddele aan lede van die gemeenskap beskikbaar te stel. Gebruik dié skakel om by te dra: www.krisisfonds.co.za.

Soortgelyke plasings