| | |

COVID-19-pandemie: Polisiebevelvoerders dobbel met lede se lewens

Genl.maj. Patricia Rampota, van die Gautengse provinsiale polisiekantoor, het vandag geëis dat polisiestasies die ontvangs van handreiniger van AfriForum weier en dat polisiestasies die handreiniger wat hulle reeds ontvang het, moet teruggee. Dit volg nadat AfriForum die afgelope week altesaam 5 000 botteltjies handreiniger aan polisie-eenhede in Gauteng geskenk het om polisielede te help beskerm teen die opdoen van COVID-19 tydens die uitvoer van hul pligte.

Ondanks polisielede van dié stasies se pleidooie om hulp, het die provinsiale bestuur van die polisie in Gauteng steeds aangedring op die weiering van die handreiniger.

“Dit is in die eerste plek die regering se verantwoordelikheid om polisielede, wat op die voorste linies van hierdie krisis is, te beskerm teen die opdoen van die virus. Bitter min polisiestasies het tot op hede voldoende toerusting soos maskers, handskoene en handreiniger ontvang. Dit is dus immoreel en uiters onverantwoordelik van polisiebevelvoerders om polisielede se lewens en gesondheid op die spel te plaas deur ons bona fide hulp te weier,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Volgens Cameron is AfriForum se doel met die skenking om die polisie by te staan om hulle teen die opdoen van die virus te help beskerm terwyl hulle hul werk doen. Dit beteken ook dat indien lede siek is en dit nie weet nie, hulle ook hul kollegas tot ’n redelike mate teen infeksie kan beskerm.

“Die virus het die potensiaal om ’n hele polisiestasie buite werking te stel – en dít kan ons nie bekostig nie.”

AfriForum het die handreiniger by polisiestasies in die suide van Gauteng, die Wes-Rand, Oos-Rand en Pretoria afgelewer.

Soortgelyke plasings