|

Onregmatig en ongeldig: Só sê hof oor NERSA se oorweging van munisipale kragtariefverhogings

Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag bevind dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is. Dit beteken dat die reguleerder geen aansoeke om kragtariefverhogings van munisipaliteite mag oorweeg tensy die vereiste kostestudies ook ingedien word nie. As sodanig het die hof beveel dat munisipaliteite wie se kostestudies ontbreek, sal moet voortgaan om kragtariewe te hef gebaseer op die bestaande tariewe wat vir die 2023/2024-boekjaar goedgekeur is. Munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings vir die 2024/2025-boekjaar kan wel deur NERSA heroorweeg word mits die nodige kostestudies binne 60 dae van vandag ingedien word.

“Hierdie is ’n groot oorwinning vir burgerregte – iets waarvoor AfriForum hom beywer. Die hof het dit nou opnuut beaam dat NERSA versuim het om verbruikers te beskerm teen onregmatige aansoeke om kragtariefverhogings – iets wat die wet die reguleerder verplig om te doen,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die verhogings in munisipale kragtariewe moet op 1 Julie geïmplementeer word. NERSA het vandag aangekondig dat hy dié spertyd gehaal het en dat al 178 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders se tariefverhogingsaansoeke reeds oorweeg en goedgekeur is. Slegs 66 van hierdie munisipaliteite het egter kostestudies gedoen. “Dié aankondiging is voortydig gemaak. Ons vertrou dat NERSA gehoor sal gee aan die bevel en dat die munisipaliteite wie se vereiste kostestudies ontbreek se aansoeke geskrap sal word,” sê Mostert.

AfriForum het vroeër vandeesmaand ’n dringende aansoek by die hof ingedien om te verhoed dat NERSA met die oorwegings voortgaan, aangesien ’n Hooggeregshofbevel van Oktober 2022 vereis dat ’n kostestudie as deel van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings ingedien moet word. Dit word ook deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf. 

Volgens Mostert is die gebruik van ’n kostestudie vir tariefverhogings van kritieke belang omdat dit ’n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou. “Munisipaliteite wat nie kostestudies het nie, se aansoeke word in hierdie stadium bloot geskoei op ’n beraming van wat dit kos om die diens te lewer. Aansoeke om tariefverhogings moet egter gedoen word op akkurate berekende syfers wat sal verseker dat billike tariefverhogings aan verbruikers deurgegee word,” verduidelik Mostert.

Die stryd teen onbillike kragtariefverhogings eindig egter nie met hierdie bevel nie. Dit is nou gemeenskappe, besighede en burgerlike instellings se verantwoordelikheid om die inhoud van hul munisipaliteite se kostestudies te oorweeg om te verseker dat munisipaliteite nie ’n rat voor verbruikers se oë draai nie. “Die hofsaak was in die belang van verbruikers gedoen en om regverdigheid en deursigtigheid in die goedkeuring van munisipale kragtariewe te bevorder,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings