Nuwe voorgestelde wetgewing sal polisiewaghond in polisieskoothond verander

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag kommentaar op die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) by die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie ingedien. In sy voorlegging wys die organisasie op verskeie kommerwekkende aspekte in die voorgestelde wysigingswetsontwerp, waaronder die aanstellingsproses van die Opod-hoof. Dié voorgestelde aanstellingsproses sal volgens AfriForum die polisiewaghond Opod as’t ware in niks meer as ’n polisieskoothond omskep nie.

Hierdie wysigings maak onder meer die kommerwekkende voorstel dat die minister van Polisie die Opod-hoof met die goedkeuring van die kabinet aanstel. Die vestiging van so ’n deurslaggewende besluit by die uitvoerende gesag, skep die moontlikheid dat die keuringsproses verwikkel raak in ’n interne magstryd, nepotisme en kaderontplooiing. Die afwesigheid van wigte en teenwigte in hierdie voorstel verhoog boonop hierdie risiko.

Die integriteit en onafhanklikheid van die Opod se mandaat vereis ’n keuringsproses vry van enige onbehoorlike invloed. Presedente is al geskep wat toon dat persoonlike vooroordele, bande en agendas wel besluitneming beïnvloed. Dit sal die wese van die Opod in gedrang bring. Om die geloofwaardigheid en funksionaliteit van die Opod op die langtermyn te verseker, moet die aanstellingsproses beskerm word van enige kwesbaarhede en die belange van die breër Suid-Afrikaanse samelewing prioritiseer bo enige politieke oorwegings.

“Die rol van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat is om voorvalle te ondersoek waar SAPD-lede hul magte misbruik of deelneem aan misdadigheid. Daarom is dit belaglik om voor te stel dat die minister van Polisie soveel invloed in die aanstelling van die Opod-hoof moet hê. Die publiek se vertroue in die SAPD is reeds baie laag en hierdie voorgestelde wysigings versterk die persepsie dat die SAPD ’n manier probeer vind om verantwoordelikheid vir sy optrede te systap,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Volgens Johan Nortjé, navorser van AfriForum, het onlangse AfriForum-navorsing daarop gewys dat daar ’n dringende behoefte aan die desentralisering van die SAPD bestaan. “Voorts het die Opod se 2021/2022-jaarverslag aangetoon dat dié waghond meer as 5 200 sake ondersoek het waarin SAPD-lede by verskeie misdade betrokke was. Aanrandings het in sowat 65% van dié sake voorgekom. Hieruit is dit duidelik dat enige voorgestelde wetgewing wat poog om die mag van die SAPD selfs verder te sentraliseer, beslis inbraak sal maak op die Opod se vermoë om hierdie sake te ondersoek,” sê Nortjé.

Soortgelyke plasings