|

AfriForum-buurtwagte in sentraalstreek neem deel aan nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Noordwes, KwaZulu-Natal en die Vrystaat het op 14 April in samewerking met die SAPD, plaaslike GPF, gemeenskapslede en verskeie sekuriteitsmaatskappye deelgeneem aan AfriForum se nasionale patrollie. Hierdie patrollie het van 16:00 tot 06:00 die volgende oggend geduur.

Altesaam 1489 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en 26 326 km in 767 voertuie afgelê. Die buurtwagte het 24 insidente hanteer. Die doel van hierdie patrollies is om sigbaarheid te verhoog in die onderskeie provinsies en sodoende misdaad teen te werk.

“Die AfriForum-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsrolspelers hou om misdaad hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saamstaan om misdaad te bekamp.  Die verhoogde sigbaarheid in woonbuurte en stede speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidspesialis vir die sentraalstreek.

AfriForum wil graag elke buurtwaglid en ander rolspelers wat deelgeneem het bedank vir hulle bereidwilligheid om hul tyd selfs op ’n Vrydagaand op te offer om hul gemeenskappe veilig te hou. 

Raak vandag nog by jou plaaslike buurtwag betrokke en help om jou gemeenskap te beveilig.

Soortgelyke plasings