|

Oudstudente se studente-ervarings boustene vir Akademia se groeiende studentekultuur

Akademia het pas die navorsingsuitslae van sy #Studentelewe-veldtog aanlyn bekendgemaak.

’n Paneelgesprek met Marthinus Visser, besturende direkteur, Douard d’Assonville, bestuurder: studentelewe en koshuise, en Rika Nieuwoudt, departementshoof en dosent, is tydens die bekendstelling gehou om die navorsingsverslag se hooftemas te bespreek, asook hoe Akademia se reeds gevestigde studentelewe hierby aansluit.

Hierdie navorsingsveldtog is aangepak om Afrikaanse alumni se beste studentelewe-oomblikke vas te vang om te kyk wat die elemente van ’n gesonde studentelewe is wat jongmense tydens hulle studies vorm. Akademia het ook met hierdie navorsing bepaal hoe die studentelewe van ’n Afrikaanse universiteit behoort te lyk. Alumni van verskeie hoëronderwysinstellings, sowel as bekendes soos Bennie Fourie, Daniëlla van Heerden, Bok van Blerk en Mila Guy het hieraan deelgeneem.

“Oudstudente se studentestories is ’n bousteen vir Akademia se groeiende studentekultuur. Vanweë die studentelewe word daar aan gemeenskaplike sake deelgeneem, word gemeenskapsbande gevestig, word daar vorm aan ons ideale en drome gegee en word daar saam feesgevier. Kwalik enige ander geskenk laat ’n blywende indruk op ons as só ’n studentelewe,” het prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, oor die belangrikheid van ’n studentelewe gesê.

487 respondente uit 23 hoëronderwysinstellings het die vraelys voltooi en mense is ook aangemoedig om hul stories en herinneringe op die Studentelewe-webblad en Facebook-blad te deel. Hierdie data is deur middel van ’n inhoudsanalise deur die Solidariteit Navorsingsinstituut ontleed om spesifieke temas te identifiseer.

Studentekultuur, koshuislewe en karaktervorming is van die hooftemas in die verslag en volgens d’Assonville presteer Akademia reeds op al drie die terreine. Akademia gee ook meer inligting in die verslag oor hul studenteaktiwiteite, verduidelik waarheen die instelling op pad is en hoe die uitslae van die veldtog as bloudruk aangewend kan word.

Luidens die verslag is die gebeure wat buite die klaskamer plaasvind ’n integrale deel van die opleidings- en opvoedingservaring van ’n Akademia-student. Die buitemuurse studentelewe aan Akademia word gerig deur die vormingsideaal wat die instelling vir sy studente nastreef.

Akademia se studentelewe ondersteun deugde soos karaktervorming, integriteit, wysheid, vriendskap en die sin vir gemeenskap, wat weer die instelling se verbintenis tot opvoeding en vorming ondersteun en versterk.

“Uit die verslag is dit duidelik dat dit nie nodig is om die wiel te herontwerp nie. Ons by Akademia is trots om dit waaraan ons ouers en grootouers gebou het, te koester en uit te bou. Ons sien daarna uit om verder te bou aan ’n gesonde, bruisende en lewenskragtige studentelewe vir Afrikaanse studente,” sê d’Assonville.

Volgens Visser het die uitslae van die navorsingsverslag sy vermoedens rakende die impak van studentelewe sterk bevestig. “Akademia verstaan die behoefte van die Afrikaanse student. Ons skep ’n gemeenskap vir ons studente, werk aan iets groter as net onsself en lewe binne ’n waarderaamwerk wat ’n deurslaggewende faktor in die verslag was.”

Visser het ook Akademia se leuse ad futurum per fontes beklemtoon wat beteken vanuit die bronne na die toekoms. “Ons gaan dus hierdie navorsing oor die bronne van studentelewe bestudeer, die goeie daaruit neem en dit herverpak om ’n goeie studentelewe vir Akademia te bou.

Visser het Akademia se droom gedeel wat ’n volledige kampus in die ooste van Pretoria insluit. Hierdie kampus is vinnig in wording sodat dit al die aktiwiteite van Akademia se studentelewe sal kan huisves. “Alhoewel ons nog nie op die droomkampus is nie, hou dit geensins ons studente terug nie. Ons sien uit om die erfenis van ons Afrikaanse alumni landwyd te kan uitbou op hierdie nuwe kampus.”

Klik hier om die verslag af te laai.

Kyk hier na die paneelgesprek.

Soortgelyke plasings