| |

OORWINNING: BALLITO-KLAGTES TERUGGETREK NÁ PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID INGRYP

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het AfriForum se privaatvervolgingseenheid skriftelik in kennis gestel dat hulle amptelik besluit het om die agt klagtes teen persone wat tydens vlak 5 van die inperking in Ballito gearresteer is vir die sogenaamde oortreding van die Rampbestuurwet, 57 van 2002, laat vaar het. Dié eenheid het vertoë aan die NVG gerig oor waarom hierdie persone nie vervolg moet word nie.

Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Mei vanjaar aangekondig het dat hulle betrokke gaan raak by ’n voorval waar twee vredesbeamptes van die KwaDukuza Plaaslike Munisipaliteit in Ballito ’n vierjarige kind teen die wil van sy vader hanteer en ook agt persone aangekeer het omdat hulle op die strand was.

Die NVG het die persone eers gedagvaar om op 10 Augustus 2020 (’n openbare vakansiedag) in die hof te verskyn en daarna aangedui dat hulle die sake eers na die polisie wil terugverwys vir verdere ondersoek. Die aanklaer in die saak het egter op 21 Oktober aangedui dat die NVG die vervolgings gaan laat vaar.

“AfriForum verwelkom die NVG se besluit om die klagtes te laat vaar, maar voel sterk dat daar nooit klagtes teen hierdie mense ingestel moes geword het nie, asook dat die wetstoepassers se optrede in hierdie geval arbitrêr en onnodig was. Die meeste lede van die publiek het, veral tydens vlak 5 van die inperking, probeer sin maak van vae regulasies, wat gereeld verander het en ook irrasioneel was. Om hierdie mense te straf bloot omdat hulle op die strand gestap het en boonop met kriminele rekords op te saal, sou bloot verregaande gewees het,” sê Natasha Venter, bestuurder van veldtogte by AfriForum.

Soortgelyke plasings