|

Oos-Londen-tak plant bome by Laerskool Grens

Die AfriForum-tak in Oos-Londen het op 26 September bome by die Laerskool Grens geplant om die skool se perseel op te helder. Daar is drie olienhoutbome (Olea europaea subspecies cuspidata) geplant wat in die toekoms baie skaduwee tydens pouses en sportdae vir die leerders sal bied.

“Die tak het die skool genader om uit te vind of daar iewers ’n behoefte is om bome te plant. Die skool het ingestem dat daar bome geplant kan word om die skoolgrond te verfraai,” sê Dave Nettle, voorsitter van AfriForum se Oos-Londen-tak.

“In die onsekere tye waarin ons leef, is dit belangrik om te weet dat ons die begin van lente, wat simbolies is aan ’n nuwe begin, met so ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant, gee ons moed vir die toekoms,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Deur net een boom te plant, is jy reeds besig om die natuur te help. Bome hou talle voordele in – dit voorkom onder meer gronderosie, dit bied skuiling en dit verskaf suurstof,” sluit Nettle af.

Die tak moedig die Oos-Londen-gemeenskap aan om by hul eie AfriForum-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings