|

OPSKUD! GROOT PRYSE WINK VIR AFRIKAANSE KUNSTENAARS MET AITSA’S 2021

Deur Alet Rademeyer

Die COVID-19-pandemie het sedert dit die land in Maart verlede jaar getref het ’n geweldige impak op kunstenaars gehad. Tientalle se loopbane het letterlik tot stilstand geruk met byeenkomste, feeste en vertonings wat weens die staat van inperking afgestel of gekanselleer is.

Nou is daar weer ’n bietjie lig in die tonnel en goeie nuus vir Afrikaanse kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers.

Pretoria FM se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings vir 2021 is terug!  Pretoria FM streef daarna om in alle opsigte deursigtig en geloofwaardig te wees en in die beste belang van Afrikaanse musiek, liedjieskrywers, kunstenaars, vervaardigers en regisseurs op te tree. Dit is ’n nasionale toekenningsgeleentheid en nie beperk tot Pretoria of Gauteng nie.

Die wenners van vanjaar se twaalf kategorieë sal saam met hulle unieke Aitsa-trofee, prysgeld van R10 000 per kategorie ontvang!

Die pragtige toekenningsbeeld wat deur die beeldhouer Francois Visser gemaak is. Foto: Reint Dykema.

Kunstenaars en ander rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf het nog net tot Vrydag 6 Augustus 2021 om vir vanjaar se Aitsa’s in te skryf en dalk met die kontantprys weg te stap! Kunstenaars kan self inskryf of hulle kan deur hulle onderskeie platemaatskappye ingeskryf word. Die inskrywings word deur ‘n paneel kundiges in die musiekbedryf beoordeel en ‘n maksimum van ses finaliste sal in elke kategorie aangewys word.

Alle kunstenaars met nuwe albums/liedjies/video’s wat gedurende die 24 maande tydperk tussen 1 April 2019 en 31 Maart 2021 uitgereik is, word uitgenooi om in te skryf.

Altesaam 12 programme, een vir elke kategorie, sal van September af, weekliks gelyktydig op radio en op sosiale platforms uitgesaai word en die publiek sal die geleentheid kry om vir hulle gunsteling- kunstenaars te stem. Die wenners word op 1 Desember 2021 tydens ‘n spesiale geleentheid bekend gemaak en dit sal ook regstreeks op radio en sosiale platforms wêreldwyd uitgesaai word.

Van die kunstenaars wat in 2019 met toekennings weggestap het, is Demi-Lee Moore, Elandré, Rocco de Villiers, Spoegwolf, Juan Boucher, Die Flooze, Donalee Roberts en Ivan Botha.

Demi Lee Moore ontvang die toekenning vir album van die jaar. Foto: Reint Dykema.

Die Hoërskool Rustenburg se koor het ook ’n toekenning vir uitnemendheid op skoolvlak gewen.

As jy hope talent het en of dalk van iemand weet wat die land se volgende sangsensasie gaan wees, is hierdie ’n geleentheid om nie mis te loop nie.

Voltooi die inskrywingsvorm hier en volg die kriteria vir inskrywings. Die voltooide inskrywings moet gestuur word na inskrywings@aitsas.co.za

Die inskrywingsvorms is ook beskikbaar op Pretoria FM se webtuiste by www.pretoriafm.co.za. Navrae kan gerig word aan Riaana Nell by navrae@aitsas.co.za

Soortgelyke plasings