|

Organisasies snoer kragte saam om plaasveiligheid landwyd te verskerp

Die burgerregteorganisasie AfriForum, die familieboernetwerk Saai en verskeie ander rolspelers in die landbousektor het vandag op AfriForum en Saai se Landelike Veiligheidskonferensie wat in Centurion gehou is, ooreengekom om plaasaanvalle en landelike misdaad deur middel van ’n samewerkende strategie hok te slaan.

AfriForum, Saai, TLU SA, AgriSA, Vrystaat Landbou (VL), Agri-Noordwes, Mpumalanga Landbou, die Nasionale Werkgewersorganisasie (NEASA), Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV), Forum Sekuriteit, Sakeliga, die SA Spesmagte-vereniging en die Vereniging vir Suid-Afrikaanse militêre veterane, het onderneem om nouer saam te werk om ’n verenigde front teen landelike misdaad te vorm.

“AfriForum is opgewonde oor die feit dat al hierdie organisasies bereid is om hande te vat en saam ’n verskil te maak teen die vlaag van plaasaanvalle en toenemende landelike misdaad. Die SAPD het al self erken dat hy nie sy mandaat kan vervul nie en dit is voor die hand liggend as ’n mens kyk na die chaotiese toestand van misdaad in die land. Dit is nou tyd vir gemeenskappe om hulself te beveilig,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Volgens dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van Saai, het die organisasies, burgerlike strukture en landbou-unies voete op die grond wanneer dit by landelike veiligheid kom en die vergadering in Centurion is byeengeroep om groter samewerking en koördinering te bewerkstellig.

“Sommige organisasies het plaaswagte in afgeleë gebiede of kamerastelsels, radionetwerke, noodsentrums of reaksie-eenhede. Ander plaas wagte uit, patrolleer nasionale paaie of stig en bestuur private brandweerdienste. Almal is uiteindelik in dieselfde bedryf en het een doel voor oë – om gemeenskappe te beveilig waar die regering dit nie meer kan doen nie,” verduidelik De Jager.

Volgens De Jager is die groep organisasies wat vandag byeengekom het die mees omvangryke praktiese werkgroep nog en kan verhoogde samewerking en integrasie van netwerke nou vir die eerste keer waarlik gedoen word.

Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is die veiligheidsprobleme in ons land se oplossing nie alleen gesetel in organisasies nie, maar wel in gemeenskappe. “Dit verg dus dat ’n gemeenskap wat kapasiteit het, moet koördineer om ’n oplossing te kry. Samewerking is die antwoord, maar dan altyd rondom die regte beginsels,” sê Van Zyl.

Volgens Nic Arnold, uitvoerende direkteur van Forum Sekuriteit, is daar baie ruimte vir samewerking tussen die private sekerheidsektor en openbare organisasies. “Ten einde veilige gemeenskappe daar te stel, moet misdadigers vasgevat word, kwesbare individue moet in weerbare individue omskep word en gemeenskappe se beskermingsvermoë moet uitgebrei word,” sê Arnold.

Raak betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings