| |

Parys en omliggende areas weke sonder water

Die burgerregteorganisasie AfriForum, wat verbind is tot die bevordering van grondwetlike regte, eis dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Water en Sanitasie (DWS) onmiddellik optree om watervoorsiening aan Parys, Tumahole en Schonkenville te herstel. Sommige gebiede is reeds vir twee weke lank sonder water. Dit is ’n skending van hulle grondwetlike reg op toegang tot skoon drinkwater.

Die situasie het ’n kritieke punt bereik, met inwoners wat ernstige gesondheidsrisiko’s in die gesig staar en swaarkry as gevolg van die gebrek aan water. AfriForum se brief beklemtoon dié munisipaliteit en die DWS se regsplig om die waterkrisis op te los en die moontlike regsgevolge en administratiewe optrede wat uit die versuim van hierdie regsplig kan spruit.

“Nie net is die reg op toegang tot genoegsame drinkwater ’n fundamentele grondwetlike reg nie, maar die Grondwet verplig ook die regering om toe te sien dat mense hierdie reg kan uitoefen,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer oor omgewingsake. “Die gemeenskappe ly ernstig onder die gebrek aan water en kry noodgedwonge uitermate swaar. Ons kan nie slegs toekyk terwyl hul grondwetlike regte geminag word nie. Ons eis onmiddellike optrede om hul toegang tot skoon drinkwater te herstel.”

AfriForum se brief eis verder dat daar deursigtige kommunikasie moet wees en dat ’n aksieplan met ’n duidelike tydlyn opgestel moet word vir die herstel van watervoorsiening en tussentydse maatreëls om drinkwater gedurende die krisis te voorsien. Indien die krisis langer voortduur, waarsku AfriForum dat verdere regstappe geneem sal word.

“Ons versoek die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die DWS om onmiddellik en met erns stappe te neem om die krisis op te los,” sluit De Vaal af. “Die nagevolge van hulle gebrek aan optrede strek wyer as regsgevolge. Buiten ’n regsplig het die regering ook ’n morele en etiese plig om na die welstand van sy burgers om te sien. Die minister is deeglik bewus van die situasie en hy het by ’n onlangse vergadering, waarvan hy die voorsitter was, verskeie beloftes rakende dié situasie aan die gemeenskap gemaak.”

Soortgelyke plasings