Nóg belastinggeld in 177 000 staatsamptenare se sakke; AfriForum eis dissiplinêre optrede

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis dat daar teen staatsamptenare wat onregmatig welsynstoelae ontvang het, opgetree word.

Die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (SASSA) ondersoek tans 177 000 staatsamptenare wat welsynstoelae ontvang. Volgens Lindiwe Zulu, die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, sal die geld teruggevorder word.

“Die minister behoort nie aan te kondig dat die geld teruggevorder gaan word nie, dit moes reeds teruggevorder gewees het. AfriForum eis ook bewyse om te sien dat die geld ingevorder is en ons wil presies weet watter stappe teen hierdie skelm staatsamptenare gedoen gaan word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Daar is na beraming in Julie alleen sowat R200 miljoen in toelae aan staatsamptenare uitbetaal.

Zulu het ook aangedui dat staatsamptenare voortaan gaan moet bewys dat hulle geregtig is op welsynstoelae.

“Die minister se kommentaar wys net hoe onbevoeg sy en haar personeel is. ’n Mens sou dink dat dit standaard is om te bewys dat jy geregtig is tot belastingbetalers se geld, voor dit sommer net aan jou oorbetaal word. Weer eens wys die ANC-regering vir ons dat dit tyd is vir ’n belastingprotes,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings