|

Misdaad: Die tyd vir afwenteling van polisiëringsmag is nóú

Die gruwelike misdaadstatistiek wat die minister van Polisie, Bheki Cele, vandag bekendgestel het, skok glad nie meer nie, want dit het ongelukkig ’n voorspelbare norm in Suid-Afrika geword. Wat wel skok, is die feit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se topleierskap geen werkbare oplossings kan bied vir die 75 moorde en 75 pogings tot moord wat tans elke dag in Suid-Afrika plaasvind nie en boonop steeds alles in hul vermoë doen om die beheer van die SAPD op ’n gesentraliseerde basis in die nasionale regering te hou.

Politieke inmenging, korrupsie, ’n gebrek aan opleiding en aanspreeklikheid lê die SAPD reeds veels te lank al lam. Dit is duidelik dat hierdie situasie nie op nasionale vlak reggestel kan word nie. Dit is soos om van wolf skaapwagter te maak.

AfriForum het al telkens daarop gewys dat daar oor provinsies heen ’n noemenswaardige variasie is in die voorkoms van verskillende soorte misdaad. Die variasie ten opsigte van byvoorbeeld moordsyfers sowel as die tipe moorde – soos taxiverwante, sluip-, plaas- en onwettige mynbouverwante moorde – beklemtoon die uniekheid van dié misdade en derhalwe die dringendheid aan ’n unieke benadering tot die bekamping, ondersoek en oplossing daarvan. Suid-Afrika se enigste hoop om misdaad onder beheer te bring, rus nou by die afwenteling van polisiëringsmagte tot op provinsiale en streeksvlak.

Dié afwenteling van mag sal beteken dat provinsies en streke meer sê sal hê in die formulering van hul eie teenmisdaadstrategieë sowel as die uitvoering daarvan. Om plaasaanvalle te bekamp verg byvoorbeeld ’n geheel en al ander polisiëringsaanslag as om bendegeweld op die Kaapse Vlakte hok te slaan. Tog word oplossings vir uiteenlopende misdade geformuleer vanuit die gerief van ’n sentrale hoofkantoor wat nie net geografies verwyderd is van die probleme nie, maar ook swaar dra aan burokratiese leierskap, teen ’n slakkepas reageer op uitdagings en nie genoegsame grondvlakkennis het om misdaad doeltreffend te bekamp nie.

“Terwyl misdaad in Suid Afrika die ekonomie lam lê en inwoners van die land daagliks teister, sit die SAPD boonop met ’n tekort van nagenoeg 8 000 speurders en geen daadwerklike plan om die situasie aan pak nie. Die getal polisiereserviste het ook aansienlik afgeneem van 52 000 in 2011/2012 en staan tans op net meer as 3 500. Die SAPD doen ook nie enige moeite om hierdie vrywilligers terug te lok nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Beheer oor polisiëring hoort nie in die hande van die korrupte ANC se sentrale magte nie, maar eerder in die hande van gemeenskappe. Dit is nou tyd om die SAPD se mag af te wentel sodat hierdie kriminele virus wat dreig om Suid-Afrika te verswelg, vasgevat kan word,” sluit Broodryk af.

AfriForum doen ’n beroep op lede van die publiek om betrokke te raak by hul plaaslike burgerlike veiligheidstrukture om die veiligheid van hul gemeenskappe te help verseker.

AfriForum het 169 buurtwagte landwyd. Raak betrokke by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings