|

Weskus-tak open wandelroete tussen Weskus-plante

AfriForum se Weskus-tak het die afgelope naweek hul wandelroete in die Longacres-landgoed in Langebaan, waar plante en veldblomme uniek aan die Weskus volop groei, vir die publiek geopen. Tydens die geleentheid is daar ook nuwe bome geplant as deel van die loodsing van die Weskus-tak se boomplantprojek vir 2023.

Hierdie plaaslike AfriForum-tak het reeds laasjaar begin met die aanplant van inheemse bome en die identifisering van plante in die area. Met die goeie reënval die afgelope jaar was skaars spesies veldblomme die eerste keer opgemerk. Die boomplantprojek is uitgebrei met ’n wandelroete van 2 km lank, waar Weskus-plante en -veldblomme al langs die roete met bordjies gemerk is.

Charmaine Laubscher, die adjunkburgemeester van die Saldanha-munisipaliteit, het die wandelroete amptelik geopen deur die lint te knip. Tydens haar openingstoespraak het sy klem gelê op selfdoen en ook die AfriForum-tak bedank vir hul ondersteun in die gemeenskap. “Ons werk graag saam met AfriForum en ander organisasies wat projekte aanpak tot voordeel van ons gemeenskap,” het Laubscher gesê.

Lisa Vos van die Longacres-groengordel het meer vertel oor die plante, veldblomme en die skaars plantsoorte wat op die wandelroete opgemerk kan word.

Volgens Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak, gaan hierdie projek met tyd uitgebrei word. “Ons sal graag ook Langebaan op hierdie manier wil bemark en moedig mense aan om die wandelroete te kom stap.”

Kontak Monk by 082 802 2349 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings