|

Petisie aan president: Moenie Afrikaanse skole tot vyand verklaar nie

Drie organisasies het vandag hulle gesamentlike druk op die regering oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) verskerp met ʼn petisie aan pres. Cyril Ramaphosa.

Met hierdie petisie eis Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) dat pres. Ramaphosa nie die wetsontwerp goedkeur nie en dit vir heroorweging na die Nasionale Vergadering (NV) terugstuur.

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, sê die wysigings om hoofde van die onderwysdepartement en ander regeringsamptenare die finale sê oor skole se taal- en toelatingsbeleid te gee, kan ernstige gevolge inhou.

“Hierdie aanpassings bedreig die voortbestaan van die enkele enkelmedium Afrikaanse skole wat nog bestaan. Ons dui in die petisie aan dat dit hulle identiteit en kultuur aanval.

“Per slot van rekening, hierdie stuk wetgewing is nie die papier waarop dit geskryf is werd nie. Indien die president voortgaan om dit te teken, sal ons sonder huiwer met litigasie voortgaan,” sê Van der Bijl.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê indien pres. Ramaphosa hierdie anti-Afrikaanse wetsontwerp onderteken, sal hy Afrikaanse taalgemeenskap en veral Afrikaanse skole en kinders amptelik tot vyand verklaar.

“Verdere stappe sal dan deur AfriForum, Solidariteit en die SOS volg. Ons rig dus hierdie skrywe aan hom met die versoek om nie die wetgewing te onderteken nie. As die president dit ignoreer, sal AfriForum dit nasionaal en internasionaal op alle moontlike regsvlakke teenstaan,” sê Kriel.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê dit sal ʼn tree terug na nóg groter staatsbeheer oor openbare skole wees indien pres. Ramaphosa die Bela-wetsontwerp onderteken.

“Ons eis dat die Bela-wetsontwerp wéér vir openbare insette teruggestuur word en sal graag help om die aanpassings só te formuleer dat dit nie teenstrydig met die Grondwet is nie.

“Die Bela-wetsontwerp is nie belyn met die oorspronklike bedoeling van die Suid-Afrikaanse Skolewet nie. Dit laat ons met geen ander keuse as om met regstappe te begin as die president weier om gehoor te gee aan ons bekommernisse,” sê Fourie.

Soortgelyke plasings