|

Sukses: AfriForum-buurtwag lê beslag op onwettige vuurwapen

Die AfriForum-buurtwag in Germiston, Gauteng, het op Vrydag 30 September beslag gelê op ’n onwettige vuurwapen van ’n verdagte op wie se spoor hulle die afgelope week was.

Die Germiston-buurtwag het op 23 September inligting van die publiek ontvang oor ’n verdagte in die omgewing wat in besit was van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Hulle het hierdie inligting opgevolg en ’n paar dae later is die verdagte se verblyfplek bevestig.

Op 30 September is ’n operasionele span saamgestel, bestaande uit AfriForum-buurtwaglede en Blue Hawk Tactical. Die span het verdere inligting opgevolg wat gedurende die week bekom is en die verdagte is vinnig opgespoor. Die oomblik wat die verdagte die AfriForum-lede gesien het, het hy die vuurwapen wat hy by hom gehad het, uitgepluk.

Die AfriForum-lede kon daarin slaag om hom sonder voorval te ontwapen en die verdagte is saam met die onwettige vuurwapen en ammunisie aan die polisie oorhandig.

“Ons is baie dankbaar dat hierdie lede daarin geslaag het om beslissend en met selfbeheersing op te tree tydens hierdie situasie. Hierdie vrywilligers stel hul lewens in gevaar om hul gemeenskappe te help beskerm. AfriForum is baie trots op die onbaatsugtige werk wat al ons buurtwaglede doen,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Die feit dat gemeenskappe ons patrolleerders vertrou en bereid is om inligting oor misdaad met ons te deel, stel ons veiligheidstrukture ook in staat om intelligensie-gedrewe operasies uit te voer, wat hoogs suksesvol is,” sluit Broodryk af.

Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om by jou naaste AfriForum-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings