|

AfriForum-buurtwagte behou momentum in stryd teen misdaad

AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture het die afgelope week weer talle suksesse behaal in die stryd om hul gemeenskappe te help beveilig.

In die vroeë oggendure van 13 November het die Brakpan-buurtwag gereageer op berigte van ’n voertuigongeluk op die R23. Een van die voertuie het aan die brandgeslaan en die bestuurder was in die wrak vasgekeer. AfriForum-lede, in samewerking met ander privaat rolspelers, kon daarin slaag om die bestuurder uit die brandende motor te red en het die toneel beveilig terwyl die AfriForum-brandspan die vlamme geblus het.

Die Pionier-tak in Pretoria se buurtwaglede het op 14 November ’n inbreker vasgetrek. Die verdagte was in besit van verskeie vermeende gesteelde items, asook toerusting om inbrake mee uit te over. Die verdagte is aan die polisie oorhandig.

’n Buurtwaglid in Secunda het ook op 16 November ’n vermeende dwelmtransaksie opgemerk. Die lid het die verdagte onder oog gehou en die polisie ontbied.

AfriForum se Delmas-buurtwag het op 17 November ’n ontsnapte gevangene help vastrek. Die verdagte het uit die plaaslike hof ontsnap en op die vlug geslaan. AfriForum-lede het ’n hommeltuig ontplooi om te help met die soektog en die verdagte is kort daarna opgespoor en in hegtenis geneem.

AfriForum-lede was hierdie week ook betrokke met die soektog na ’n boer wat vermoedelik deur vloedwaters meegesleur is. AfriForum se lugvleuel het ook ’n hommeltuig ontplooi. Die soektog duur steeds voort.

“Die ongelooflike suksesse wat ons buurtwagte daagliks behaal, wys net weer dat goed georganiseerde gemeenskappe werklik ’n verskil kan maak deur beheer van hul eie veiligheid te neem,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Dit is duidelik dat hoe meer mense betrokke raak by hul plaaslike veiligheidstrukture, hoe meer suksesse behaal ons,” sluit Broodryk af.

AfriForum het 159 buurt- en plaaswagstrukture landswyd.

Raak betrokke by jou naaste AfriForum-buurtwag deur www.afriforumbuurtwag.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings