Grens
|

AfriForum eis duidelikheid oor aktiwiteite van grenswagte

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die aktiwiteite van die sogenaamde grenswagte wat deur die Grensbestuursowerheid (GBO) ontplooi is. Die organisasie het ’n versoek ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting (PAIA) by die Departement van Binnelandse Sake ingedien, waarin besonderhede oor die wagte se suksesse tot op hede versoek word.

Die GBO-wagte is onlangs onder baie twyfelagtige omstandighede inderhaas ontplooi.

AfriForum het kort daarna die GBO ingelig dat die ontplooiing van dié wagte onwettig is, aangesien die betrokke wetgewing nog nie in die Staatskoerant gepubliseer is nie.

Ten spyte van die feit dat hierdie wetgewing nog nie in plek is nie, is die GBO-wagte na verskeie grensgebiede ontplooi en aktief besig om voertuie voor te keer en te deursoek, daar is ook vuurwapens aan hulle uitgereik. Die wetgewing is toe stilletjies in die Staatskoerant gepubliseer.

AfriForum het ook kommer uitgespreek oor die oorhaastige opleiding wat hierdie wagte ontvang het asook die wyse waarop die wagte verkry is.

In sy PAIA-aansoek vra AfriForum die volgende inligting aan:

– Die rekords wat die aantal arrestasies van verdagtes aandui wat deur die GBO-wagte by alle grensbeheerpunte gemaak is, insluitend die datums van arrestasies.

– Die rekords wat die aantal ongedokumenteerde migrante aandui wat deur die GBO by alle grensbeheerpunte onderskep is, insluitend die datums van hierdie onderskeppings.

– Die rekords wat die aantal gesteelde voertuie, vee, vuurwapens en ammunisie aandui — asook dít wat teruggevind is — wat deur die GBO by alle grensbeheerpunte onderskep is, insluitend die datums waarop beslag gelê is op items.

– Die rekords wat die aantal keuringslêers aandui wat verwys is teenoor die aantal keuringslêers wat voltooi is van GBO-werknemers sedert die ontstaan daarvan.

– Die rekords wat die aantal GBO-wagte aandui wat vuurwapenbevoegdheid voltooi het.

“Die gebrek aan grensbeheer in Suid-Afrika is ’n groot bydraende faktor tot misdaad nasionaal en veral grensgemeenskappe trek die swaarste as gevolg van hierdie wetteloosheid. Dis ’n ernstige kwessie wat ernstige oplossings benodig en nie een of ander publisiteits-foefie van die GBO deur ongekwalifiseerde, swak opgeleide en ongekeurde wagte te ontplooi nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Volgens ons bronne neem baie van hierdie grenswagte reeds deel aan korrupsie en omkopery — ’n situasie wat vermy kon word as die nodige prosesse gevolg is toe hierdie wagte verkry en gekeur is,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings