|

Nelspruit-tak knap Steiltes-natuurreservaat op

AfriForum se Nelspruit-tak het die afgelope twee weke weereens die staproetes en park in die Steiltes-natuurreservaat skoongemaak. Vyf kilometer se staproetes is oopgesny en ’n voetgangersbruggie is herstel. Die park se gras by die hoofingang in Melkwegstraat is ook gesny en lantanabosse is verwyder. Hierdie aksie vorm deel van dié tak se volhoubare projek om hierdie stuk natuur vir inwoners van die dorp netjies, skoon en veilig te hou.

Hierdie reservaat is ’n klein juweel en is gewild onder drawwers, stappers en natuurliefhebbers danksy die besonderse natuurskoon. Dié reservaat bied ’n verskeidenheid van boomryke staproetes rondom een van die groot granietkoppies wat in die voorstad Steiltes in Mbombela geleë is.

“Ons het reeds in 2022 onderneem om die Steiltes-natuurreservaat en park op ’n volhoubare manier en gereelde basis skoon te maak omdat die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit nie altyd hulle pligte in dié verband nakom nie. Ons sal nie toelaat dat hierdie reservaat ook verval en agteruitgaan soos meeste parke en infrastruktuur in ons land nie, daarom het ons besluit om self iets aan die saak te doen,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Nelspruit-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van dié tak se projekte en ’n verskil in hul omgewing te maak: Skakel Arlo van Heerden by 066 486 7609.

Soortgelyke plasings