Pretoriase AfriForum-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel


AfriForum se buurtwagte in Apiesrivier, Bronkhorstspruit, Hennopsriviervallei, Moot, Moreletapark, Meyerspark, Pretoria-Wes en Wes-Moot het in samewerking met talle ander veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye en die SAPD op 19 Oktober 2018 van 16:00 tot 06:00 die volgende oggend aan die burgerregtewaghond se nasionale patrollie in die Tshwane Metropool deelgeneem.

Vyftien AfriForum-buurtwagte, 329 patrolleerders en 164 voertuie was by dié patrollie betrokke en het meer as 3 800 km in 777 man-ure afgelê. Vier voorvalle is suksesvol in samewerking met die SAPD hanteer.

“Van die voorvalle wat tydens die patrollie aangemeld is, sluit in betreding van privaat eiendom, gewapende verdagtes en ’n verlate voertuig,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordelike Pretoria.
“AfriForum loods nasionale patrollies om sigbaarheid, samewerking en die veiligheid van ons gemeenskappe te bevorder. Ons moet ons eie veiligheid prioritiseer sonder om van die staat afhanklik te wees,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Suidelike Pretoria.

SMS “Buurtwag” na 45341 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings