|

Privaatvervolgingseenheid eis antwoorde van polisiekommissaris oor beweerde diefstal van drank in Hennie’s-voorval

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het gister in ’n skrywe aan die kantoor van die nasionale polisiekommissaris antwoorde geëis oor waarom die SAPD sloer met die ondersoek na polisiebeamptes se beweerde betrokkenheid by die diefstal van drank by Hennie’s Restaurant in Moreleta Park tydens die inperking in Januarie vanjaar. 

Die eenheid het in Maart vanjaar vir Werner Pretorius, die eienaar van Hennie’s, bygestaan om strafregtelike klagtes van bedrog en diefstal by die Garsfontein-polisiestasie te lê. Dit volg nadat polisiebeamptes op ’n onregmatige en irrasionele wyse beslag gelê het op alkohol ter waarde van duisende rand by dié restaurant. Die beamptes het ook die restaurantbestuurder, Atrayo Nolte, onregmatig in hegtenis geneem op die bewering dat hy alkohol aan klante bedien het terwyl die verkoop van alkohol weens die inperkingsregulasies verbode was. Die restaurant se alkoholvoorraad is dae lank deur die Garsfontein-polisiestasie in bewaring gehou, selfs nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) alle klagtes teen Nolte laat vaar het. Die voorraad is egter aan die restaurant terugbesorg ná die eienaar se eerste konsultasie met AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Buiten dat van die voorraad vermis word, is sommige bottels drank se inhoud met tee vervang.

Ondanks die feit dat genl. Khehla Sitole, die Nasionale Polisiekommissaris, reeds ses maande gelede aan die privaatvervolgingseenheid gekommunikeer het dat die polisie dié diefstal in ’n baie ernstige lig beskou en die nodige stappe teen die betrokke beamptes sal neem, het daar tot dusver dadels van die ondersoek gekom. Verder, skep die skrywes van die SAPD die indruk dat die polisiebestuur die saak bloot op ’n onbevoegde wyse hanteer. Natasha Venter, adviseur vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat dit verontrustend is dat die polisie in hul skrywes oor waarom daar nog geen stappe teen hierdie beamptes gedoen is nie, bloot aanvoer dat die dossier na die NVG verwys is en dat die polisie wag vir ’n besluit rakende vervolging.

Volgens Venter sal AfriForum nie hierdie ooglopende pligsversuim duld nie. “Dit blyk dat die polisie huiwerig is om verdagtes in hul eie geledere te ondersoek. Dit laat groot gevaarligte flikker wanneer dit blyk dat diegene wat veronderstel is om die gemeenskap te beskerm, wandade pleeg en dat dít dan toegesmeer word deur hul seniors. Daarom sal AfriForum aanhou druk plaas totdat geregtigheid in hierdie saak geskied.”

Soortgelyke plasings