Privaatvervolgingseenheid en NDBV appelleer teen “onreëlmatige” bevinding in Thandi Modise-saak

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 25 Oktober 2022 hofstukke beteken vir die appèl teen die Potchefstroomse Streekhof se ontslag kragtens artikel 174 van die Strafproseswet van Thandi Modise. Die eenheid tree op namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) wat vir Modise, die minister van Verdediging, privaat vervolg op klagtes van dieremishandeling. Die appèl sal op 10 Maart 2023 in die Hooggeregshof in Mmabatho aangehoor word. Dit volg nadat landdros Ben Mtebele op 30 April 2021 vir Modise onskuldig bevind het.

Die privaatvervolgingseenheid behartig die privaat vervolging van Modise namens die NDBV wat, kragtens artikel 8 van die Strafproseswet, as statutêre liggaam vervolg op ses klagtes wat voortspruit uit 2014 nadat meer as 200 diere weens wanvoeding op Modise se plaas naby Potchefstroom uitgesit moes word.

“Hierdie appèl benadruk die feit dat ons sal aanhou om die stryd vir geregtigheid voort te sit en privaat vervolging sal inspan om te verseker dat almal gelyk is voor die reg. Die privaatvervolgingseenheid is oortuig dat die beginsels van toepassing by ’n ontslagaansoek foutiewelik toegepas is. Daar is volgens ons ’n goeie saak daargestel en Modise behoort die geleentheid te kry om haar kant van die saak te stel,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die eenheid het die aansoek om appèl in terme van artikel 310 van die Strafproseswet gebring wat behels dat die voorsittende beampte in die Streekhof, landdros Ben Mtebele, sy saak aan die Hooggeregshof moet stel oor die bevinding wat hy jeens Modise gemaak het.

“Dit is tragies dat geregtigheid vir die lyding van honderde diere sedert 2014 voortdurend vertraag is. In Maart 2023, wanneer ons terugkeer na die hof vir hierdie saak, sal dit byna nege jaar wees sedert die NDBV se stryd om geregtigheid vir hierdie diere begin het. Dit is ’n baie duidelike aanduiding van ons vasbeslotenheid om te verseker dat geregtigheid geskied vir die lyding van daardie diere – maak nie saak hoe lank dit neem nie,” sê Marcelle Meredith, uitvoerende hoof van die NDBV.

Die privaatvervolgingseenheid en die NDBV voer in hul stukke aan dat die landdros fouteer het in sy bevinding deurdat hy getuienis oorweeg het wat nie deel was van die hofrekord nie en ook nie behoorlik die relevante getuienis wat voor die hof geplaas is, in aanmerking geneem het nie. Dit sluit in dat die Streekhof nie die opinies van deskundige getuies in ag geneem het nie en terselfdertyd te veel waarde geheg het aan die opinie van ’n lekegetuie ten aansien van die hoeveelheid voer wat vir die diere beskikbaar was.

Die organisasies voer verder in hul stukke aan dat landdros Mtebele fouteer het deur te bevind dat die bestuur van die plaas oorgegee is aan die “werknemers” van Modise terwyl sy volgens die hof in Kaapstad was. Hierdie bevinding is nie gebaseer op getuienis wat deur die vervolging gelei is nie en dit word ook deur die beskuldigde ontken dat hierdie persone ooit in haar diens was. Daar is ook geen bewyse voor die hof geplaas dat Modise wel vir hierdie tydperk in Kaapstad was nie. Verder het die Streekhof ook nie oorweging geskenk aan die feit dat Modise se regspan geen pleitverduideliking verskaf het nie en haar weergawe van gebeure is ook nooit aan die getuies voorgehou nie.

“Die hof het nie bloot vir Modise ontslaan nie, maar ook die sogenaamde plaaswerkers as sondebokke geïdentifiseer, al dui die getuienis daarop dat hulle geen manier gehad het om die diere te voer nie. Ons lei hieruit af dat die hof wel aanvaar dat die diere verwaarloos was en gevrek het as gevolg van ’n tekort aan voer en water. Die hof het staat gemaak op die redelike afwesigheid van die beskuldigde, maar geen getuienis is ooit gelei om dit te bewys nie. Die hof het verder ook nie die konsep van skuld met verwysing na dolus eventualis in aanmerking geneem nie,” sluit Leask af.

Indien die appèl in die Hooggeregshof slaag, sal die saak terugverwys word na die Streekhof waar Modise se regspan dan haar saak ter verdediging voor landdros Mtebele sal moet stel.

Soortgelyke plasings