|

Buurtwagte in Marico neem deel aan nasionale patrollie

AfriForum se Marico-buurtwagte het op 14 April aan dié organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Altesaam 254 patrolleerders het 8 253 km in 250 voertuie afgelê. Die buurtwagte in Hartbeespoort, Koster, Coligny, Brits, Rustenburg, Mooinooi en Zeerust het aan die patrollie deelgeneem.

“Dit is ’n riem onder die hart om die samewerking tussen die SAPD, verskeie veiligheidsgroepe en gemeenskapspolisiëringsforums se sien. Ons gesamentlike poging het gelei tot ’n veiliger en meer veiligheidsbewuste gemeenskap en ons waardeer die deelname van al die betrokke inwoners en organisasies,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil graag al die deelnemers bedank wat hierdie nasionale patrollie in Marico moontlik gemaak het. Sonder die hulp van die gemeenskap en die betrokkenheid van alle rolspelers sou dit nie moontlik gewees het nie. Die bereidwilligheid van individue om betrokke te raak is ’n bewys daarvan dat die gemeenskap veiligheid ernstig opneem.

AfriForum is trots daarop om ’n positiewe verskil in die voorkoming van misdaad te maak deur die gebruik van ’n gemeenskapsgebaseerde benadering. “Ons bevorder samewerking tussen gemeenskapslede en wetstoepassingsagentskappe, wat bydra tot ’n toename in die opsporing en aanhouding van misdadigers. Die teenwoordigheid van ons patrolleerder in ’n gebied dien as ’n afskrikmiddel vir misdadigers en verminder die moontlikheid van hul aanvalle op onskuldige slagoffers,” sluit Viljoen af.

Klik hier om by jou naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings