|

PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID GAAN NVG EN POLISIE BYSTAAN MET VERDERE ONDERSOEK IN SENZO-SAAK

Die vyf beskuldigdes in die 2014-moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa het vandag vir die tweede keer in die Boksburg Landdroshof verskyn waar die saak tot 5 Maart 2021 uitgestel is sodat verdere ondersoeke gedoen kan word. AfriForum verteenwoordig die Meyiwa-familie in die saak en het vandag aangedui dat die privaatvervolgingseenheid van plan is om met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te skakel en verder saam met die polisie te werk in die ondersoek en vervolging van tersaaklike individue.

“Ons beoog om met adv. George Baloyi, die aanklaer in die saak, te skakel en verder saam met die ondersoekbeamptes van die SAPD te werk om, onder meer, die bekommernisse van die Meyiwa-familie aan hulle oor te dra en ons sienings oor die ondersoek met hulle te deel. Ons is van mening dat dit die staat sal bystaan in die vervolging van die tersaaklike persone,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die volgende beskuldigdes het vandag in die hof verskyn: Muzikawulahlelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokosizi Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso.

“Ons is egter steeds van mening dat die meesterbrein agter die sameswering nog nie in hegtenis geneem is nie en sal daarom voortgaan om die polisie en NVG by te staan in hul ondersoek totdat geregtigheid vir die Meyiwa-familie geskied het. Ons is dankbaar dat die SAPD die afgelope paar maande bereid was om adv. Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid by die ondersoek te betrek en die eenheid sal voortgaan om die saak in belang van geregtigheid te moniteer,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Sifiso het namens die Meyiwa-familie gesê dat hulle trots is om met AfriForum verbind te word en dat hulle bly is dat die organisasie die nodige stappe gedoen het om uiteindelik vordering in die saak te bewerkstellig. “Ons is steeds vol hoop dat meer inhegtenisnemings gaan volg sodat die meesterbrein agter die moord ook verantwoordbaar gehou sal word. Die familie is vol vertroue dat die betrokkenheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal verseker dat geregtigheid geskied.”

Soortgelyke plasings