|

Privaatvervolgingseenheid gereed om te verseker dat beweerde moord buite Klerksdorp-kroeg ondersoek word

Ná ingryping deur AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)  stappe geneem om te verseker dat geregtigheid geskied  in die beweerde moord op Hilton Pretorius. Pretorius is ná 18 dae in die hospitaal oorlede nadat hy in September deur Werniech Botha buite ’n kroeg in Klerksdorp met die vuis geslaan is. Botha word aangekla van moord en poging tot moord omdat hy nóg ’n man op dieselfde toneel met die vuis geslaan het.

Die eenheid tree op namens Linda May, die ma van die oorledene, en haar seun, Danie Pretorius. Sy het die eenheid genader uit kommer dat die polisie nie die saak die aandag gee wat dit verdien nie. Haar angs spruit uit die feit dat die beskuldigde welbekend is in Klerksdorp en familie in die polisie en NVG het.

Die aanklaer het vandag in die hof ’n teenstrydigheid hanteer in Botha se borgtogaansoek-eedsverklaring, wat deur die eenheid geïdentifiseer en geopper is in ’n brief wat verlede week aan die owerhede gestuur is. Botha het onder eed verklaar dat hy nie ’n paspoort het nie, maar tog het hy daarin geslaag om na Somalië te reis waar hy werk, enkele dae ná Pretorius gesterf het.  Botha se prokureur het op rekord geplaas dat dié stelling, wat op meineed kan neerkom, in werklikheid ’n fout aan sy kant was.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het die hofverrigtinge saam met verskeie lede van sy span bygewoon. “Ons het ’n redelik ongekompliseerde dog kern belangrike opdrag, en dit is om te verseker dat die saak volledig ondersoek word en al die beskikbare bewyse versamel en tydens die verhoor aangebied word,” sê Nel. “Ons opdrag is om te verseker dat geregtigheid geskied.”

Nel het verder verwys na die brief wat aan die SAPD en NVG gestuur is. “Ons het areas geidentifiseer waaraan hulle aandag moes skenk en ons sal die saak monitor om te verseker dat dit die aandag kry wat dit verdien.”

Die saak is uitgestel tot 15 Januarie 2024.

Soortgelyke plasings