|

Privaatvervolgingseenheid stuit wrede uitbuitings deur beweerde “babasmous”

Byna ’n dekade van hartelose misleiding en valse beloftes aan hoopvolle aanneemouers het geëindig met die beweerde “babasmous” wat 39 aanklagte van mensehandel in die gesig gestaar het. Letitia van den Berg se dag in die hof het aangebreek nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid (PVE) ingegryp het, waarna die owerhede gedwing was om aanklagte van mensehandel teen haar te ondersoek. Van den Berg staan ook tereg op aanklagte van bedrog en diefstal.

Wat begin het as ’n klag deur die Leithgöb-familie oor die stadige vordering met hul kriminele saak teen die beskuldigde, na aanleiding van die PVE se betrokkenheid, het eindelik daartoe gelei dat die polisie nog tientalle slagoffers van die beweerde bedrogspul geïdentifiseer het.

Van den Berg het na bewering dienste as ’n aannemings-maatskaplike werker voorgehou, en voornemende aanneemouers wat nie in staat is om kinders te hê nie, vir verskeie dienste in die proses om ’n kind aan te neem, geld gevra. Daar word beweer dat die beskuldigde dit gedoen het, terwyl daar in werklikheid geen kind was om aan te neem of ’n kind aan die hoopvolle ouers aangebied is nie, ten spyte daarvan dat die biologiese moeder nie toestemming vir aanneming gegee het nie. Haar beweerde oortredings dateer uit 2014.

Toe die PVE die saak aanvaar het, het die polisie net ’n klag van bedrog ondersoek. In ’n brief van Mei verlede jaar het adv. Gerrie Nel, hoof van die PVE, die ondersoekbeampte geadviseer oor die ernstige aard van die beweerde oortredings. “Ons is bekommerd dat meer babas verkoop is onder soortgelyke omstandighede soos wat die klaer moes verduur. Die algemeenheid van sulke optrede wek wel ernstige oorweging dat die verdagte se beweerde gedrag vergelyk kan word met, en binne die bestek van mensehandel kan val.

“Verder lyk dit of die verdagte met haar slinkse manipulasie voortgaan weens die kwesbaarheid van kinderlose mense. Beslissende ondersoek en optrede deur die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) en NVG is noodsaaklik om, wat blyk te wees, ’n gewoonte bedrieër of handelaar van babas te hanteer,” het Nel gesê.

Barry Bateman, woordvoerder van die PVE, sê Van den Berg het die kwesbaarheid van mans en vroue wat graag ma en pa genoem wil word bederf. “Daar word beweer dat die voornemende ouers foto’s gewys is van ’n kind wat hulle gehoop en bid het hulle eendag sal aanneem, intussen is dieselfde kind aan ’n ander egpaar belowe, aan wie dieselfde foto’s gewys is en wie uiteindelik daardie kind aangeneem het.”

Bateman sê daar word beweer dat Van den Berg in minstens een geval aan ’n egpaar gesê het dat die biologiese ma en kind tydens bevalling gesterf het. “Voornemende ouers sou babakamers voorberei en klere vir hul aanneemkinders koop, net om deur Van den Berg in die steek gelaat te word met leuens en verdere misleiding. Hierdie ongelooflike wreedheid het Van den Berg honderde duisende rande aan fooie besorg.”

Die PVE bedank die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dat hulle hierdie saak die aandag gegee het wat dit verdien. Die eenheid sal voortgaan om dit te moniteer om te verseker dat geregtigheid geskied.

’n Vorige verklaring oor hierdie aangeleentheid kan hier gevind word.

Soortgelyke plasings