Projek Nehemia in Oos-Rand in werking gestel


AfriForum het die afgelope naweek die inwerkingstelling van Projek Nehemia (’n strategie teen geweldsmisdaad) in die Oos-Rand van stapel gestuur. Tydens hierdie beplanningsessie het teenwoordiges op verskeie aspekte gefokus om misdaad in die Oos-Rand te bekamp en om gemeenskapslede by te staan om hulself, deur beter organisering, meer weerbaar te maak.

“Gemeenskappe moet verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem. Deur saam te werk, kan gemeenskappe hulself proaktief beveilig, wat juis die doel van Projek Nehemia is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Cameron verduidelik dat die inherente operasionele vermoëns van verskillende gemeenskappe op ’n doeltreffende wyse deur hierdie strategie gekoördineer word om geweldsmisdaad te bekamp.

“Ons wil fokus op die bevordering van samewerking tussen verskillende veiligheidsorganisasies vanuit verskillende gemeenskappe om mense weer hoop te gee om teen misdaad op te staan,” sê Cameron.

Nege AfriForum-buurtwagte, South Africa United Against Crime, verteenwoordigers van gemeenskapspolisiëringsforums en sekuriteitsmaatskappye in die Oos-Rand, ’n aantal veiligheidstrukture en die SAPD het aan dié beplanningsessie deelgeneem.

“Gemeenskappe moet self organiseer en betrokke raak om hul veiligheid te verseker. Ons kan nie slegs op die SAPD steun om veiligheid te verseker nie, want hulle het ongelukkig nie die kapasiteit om dit te doen nie. Daarom is georganiseerde gemeenskappe so belangrik, ” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordelike streek.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings