|

Rustenburg-parkprojek: AfriForum-vrywilligers laat géén gras onder hulle voete groei nie

Wanneer dit by die skoonmaak en instandhouding van parke in Rustenburg kom, laat wiel die plaaslike AfriForum-tak behoorlik. Hulle het in April weer verskeie parke in dié stad as deel van ’n volhoubare projek gepak en meer as 4 ha se gras met die tak se rooi trekker en bossiekappers kafgedraf.

Die afgelope maand is gefokus op die instandhouding van drie terreine, naamlik die park in Bultstraat (tussen Kerk- en Krugerstraat), die park op die hoek van Helen Joseph-/ Beyers Naudé-rylaan en Bovenstraat en die park by Bobbies-rugbyklub in Krugerstraat.

Om die strooi van rommel in die Bultstraatpark te probeer takel, is twee AfriForum-vullisdromme ook in April in dié park geplaas. Volgens Jan van Zyl, projekleier van AfriForum se Rustenburg-tak, is die plasing van hierdie vullisdromme as ’n proeflopie gedoen. “Dit begin reeds vrugte afwerp en daarom beoog ons om nog vullisdromme by dié park sowel as die park by die Bobbies-rugbyklub neer te sit,” verduidelik Van Zyl.

“Die instandhouding van groenstroke vorm ’n kritieke deel in die vestiging en bewaring van gesonde gemeenskappe. Parke wat skoon is, het ’n direkte en positiewe invloed op onder meer die voorkoms van misdaad en aspekte soos die waarde van eiendom. AfriForum se Rustenburg-tak is daarom nie net besig met die voor die hand liggende taak van opruiming en opknapping van ’n aantal parke nie, maar vervul uiteindelik ook ’n belangrike funksie in die algehele welstand van die stad en sy mense,” verduidelik Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-distrik.  

Viljoen nooi belangstellende Rustenburgers om by dié tak betrokke te raak en sodoende ’n positiewe impak op dié plaaslike gemeenskap te maak. “Die deelname en samewerking van die gemeenskap is onontbeerlik om die doelwit van ’n vooruitstrewende stad te bereik,” sluit Viljoen af.

Soortgelyke plasings