AfriForum waarsku oor eensydige vervolgings van apartheidseramisdade

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dokumentêr uitgereik wat ook die soeklig werp op ANC-lede en hul alliansievennote se misdade tydens apartheid. Dit volg ná die staat planne aangekondig het om polities gedrewe misdade te vervolg wat tydens apartheid gepleeg is.

Adv. Shamila Batohi, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is in die proses om ’n eenheid op die been te bring om hierdie tipe misdade te vervolg. Die Valke het ook reeds ’n eenheid gestig om dié misdade te ondersoek.

Volgens AfriForum gaan die stappe opnuut polarisasie in die land skep. Die praktyk het naamlik reeds bewys dat die staat, wat vervolgings betref, nalaat om hooggeplaaste ANC-lede te vervolg wat nié amnestie van die Waarheid-en-versoeningskommissie ontvang het vir die opdragte wat hulle destyds vir die uitvoer van terreurdade gegee het nie.

“AfriForum is van mening dat die boek van die verlede gesluit moet word. As die staat wel met die vervolgings voortgaan, behoort dit ook lede van die ANC en sy vennote – wat verantwoordelik was vir die dood en besering van duisende mense – te vervolg. Sou dit blyk dat hierdie vervolgings eensydig is, sal AfriForum se privaatvervolgingseenheid druk op die NVG plaas om ook ANC-leiers te vervolg. As dit onsuksesvol is, sal  privaat vervolgings sterk oorweeg word,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Daar blyk gronde te wees vir vervolging in talle van die sake waarin ANC-lede en bondgenote die verdagtes is. Indien wel, en indien die staat selektief sou vervolg, sal die privaatvervolgingseenheid in lyn met ons fokus op gelykheid voor die reg dié sake vir privaat vervolging oorweeg,” meen adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings